Grubotsing eis 11

Die twee voertuie se wrakke. Foto: @emergcontrol

Die twee voertuie se wrakke. Foto: @emergcontrol Via Arrive Alive

ʼn Grubotsing, op die N1-snelweg tussen Modimolle (Nylstroom) en Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo, het laat Sondagaand die lewens van 11 mense geëis.

Sommige van die oorledenes is onherkenbaar verbrand en hul ouderdomme en geslag sal deur ʼn forensiese ondersoek bevestig moet word om hul identiteit te bepaal.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media die botsing, omstreeks 22:50 tussen ʼn vragmotor en Toyota Avanza, bevestig.

“Die aanvanklike ondersoek dui daarop die vragmotor het in ʼn suidelike rigting gery en die Avanza in die teenoorgestelde rigting. Een van die Avanza se bande het glo gebars, waarna die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het in die aankomende verkeer in geswenk en die vragmotor trompop getref,” het Ngoepe gesê.

Die vragmotor en die Avanza het aan die brand geslaan. Tien mense wat in die Avanza was, is op die toneel dood verklaar. Die elfde persoon is in die hospitaal dood.

Die bestuurder van die vragmotor het ernstige beserings aan albei sy bene opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Ngoepe wou nie kommentaar lewer oor bewerings dat van die oorledenes skoolkinders is nie.

Die Modimolle-polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Die polisie se forensiese eenheid van Pretoria hanteer die forensiese ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tjaart ·

Sjoe, hoe kry jy 11 mense in ‘n Toyota Avanza? Duidelik was die arme kar oorlaai.

CHRISTA ·

Dis ook dalk een van die redes waarom sy band gebars het!!!

Ekwilibrium ·

Elf mense dood in ‘n Toyota Avanza. Dis dan ‘n kleinerige stasiewa wat gesertifiseer is vir vyf-plus-twee (dus hoogstens sewe) insittendes? Tragies, maar net nóg ‘n geval van verwerping van veiligheids maatreëls.

DPJ ·

Wonder hoeveel motorruste gaan nie die Desember hul bestemming bereik nie.
Daar is so baie faktore wat ‘n rol speel.
Bestuurder, voertuie, padtoestande, spoed ens. Nooit die skuldige se skuld nie.

Antjie ·

Het gister daardie pad gery, mense ry regtig onverskillig en teen geweldige hoë spoed ook!

Nel ·

Aloma die botsing was tussen ‘n VRAGMOTOR (1 insittende) en ‘n Avanza (11 passasiers).

Ruiklont ·

Ongelukkig is daar geen verkeersreëls vir die wat mense vervoer nie. Kyk net hoe word daar op die paaie opgetreë met geen, ek herhaal, geen wetstoepassing nie

Brie-brie ·

Ek stem. Daar is geen wetstoepassings nie en watse toestand was daardie bande en watter spoed het die avanza gery???

Charne ·

Daar was 10 mense in die Avanza en 1 in die vragmotor. Totaal 11mense.

Pam ·

10 mense is dood die 11de een is ini hosp dood, die trok bestuurder is op fie toneel gestabiliseer!

Judy-anne ·

11 mense in so klein motor dit is mos nie Taxi nie? nee jong as jy dan wil inklim in so motor dan moet jy maar weet iewers gaan iets nie lekker loop nie dit is helemal te veel pasasiers in daai kar.

Didi ·

Die 11 mense was in die Avanza. Die vragmotorbestuurder het beserings aan sy bene opgedoen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.