Grudetail oor moord op Britse egpaar onthul

Die Britse egpaar, Gillian Kathleen Dinnis (78) en Anthony John (74) (Foto: Verskaf)

Uiters ontstellende besonderhede oor die moord op Antony (73) en Gillian (78) Dinnis, ʼn Britse egpaar van KwaZulu-Natal wat in Augustus verlede jaar spoorloos verdwyn het, is Dinsdag tydens die borgtogverhoor van een van die beskuldigdes in die Mooirivier-landdroshof onthul.

Maroela Media het vroeër berig dat die egpaar as vermis aangemeld is. Die saak is later na ʼn ontvoeringsondersoek omgeskakel.

Twee verdagtes is in September verlede jaar in verband met die Dinnis-egpaar se verdwyning in hegtenis geneem; hulle is egter vrygelaat weens onvoldoende bewyse.

Lungelo Mkhize (22), een van die verdagtes wat aanvanklik in September vasgetrek is, is later weer in hegtenis geneem en staan nou tereg ​​op twee aanklagte van ontvoering en een van afpersing.

Tydens Dinsdag se borgtogaansoek is onthul dat die egpaar van hul plaas op Scottburgh in Middelrus – waar hulle die afgelope agt jaar gewoon het – ontvoer en vermoor is. Hierna is hul ledemate glo afgekap en vir moetie in Johannesburg verkoop.

Francois Rodgers, DA-leier in KwaZulu-Natal, sê die DA is ontsteld oor die grubesonderhede wat tydens die aansoek aan die lig gekom het.

“Dit wys op ʼn samelewing wat geen respek vir lewe het nie en waar bejaardes en ander kwesbare burgers ʼn maklike prooi vir misdadigers geword het.

“Luidens berigte was daar na bewering verskeie ander verdagtes by die gruwelike misdaad betrokke. Dit is van kritieke belang dat hierdie verdagtes ook in hegtenis geneem word sodat dit ʼn duidelike boodskap stuur dat hierdie wrede aanvalle onaanvaarbaar is en tot langtermyn-tronkstraf sal lei,” sê Rodgers.

Hy meen dat KwaZulu-Natal daagliks gevaarliker word.

“Aanvalle in landelike gebiede skiet toenemend die hoogte in en inwoners kan nie meer sonder konstante vrees met hul lewe aangaan nie.”

Hy meen spesialis-wetstoepassingseenhede, waaronder ʼn sterker landelike polisiëringseenheid, is broodnodig.

“Die DA het dit al telkemale onder die regering se aandag gebring; dit blyk egter op dowe ore te val.

“Die DA verwag dat Sipho Hlomuka, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en skakeling in KwaZulu-Natal, geregtigheid sal verseker, nie net vir die oorledenes nie, maar ook vir die Dinnis-familie in die geheel.

“Inwoners van KwaZulu-Natal kan nie meer op die polisiediens staatmaak om hulle veilig te hou nie. Ons verwag dus van Hlomuka om gehoor te gee aan ons oproepe vir spesialiseenhede, in die afwesigheid van enige plan van sy ANC-beheerde departement.”

Die egpaar se liggame is steeds nie gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.