WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.
Inspekteurs van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het onlangs op ʼn grusame toneel afgekom toe hulle ʼn varkplaas buite Brandfort in die Vrystaat besoek het.Die vereniging het in ʼn verklaring gesê hulle het Vrydag inligting ontvang van varke wat sonder kos en water gelaat word op die plaas en het hulle dadelik daarheen gehaas. Daar was egter geen teken van mense op die plaas nie en die inspekteurs moes ʼn lasbrief bekom om die perseel binne te gaan.
“Daar was geen kos of water vir die varke nie en die varke wat nog geleef het, het aan die oorskot van die minstens tien varke gevreet wat reeds gevrek het,” het die NDBV gesê. “Die karkasse van die varke was in verskillende fases van ontbinding en varkbeendere het oral rondgelê wat dit moeilik maak om te bepaal presies hoeveel varke dood is.”
Nadat die inspekteurs vir die varke kos en water neergesit het, het die varke baklei om by die water uit te kom. “Daar is ʼn besluit geneem om die oorblywende varke ’n genadedood toe te dien weens hul uiters swak toestand. Om hul lewens te probeer verleng sou wreed gewees het en hulle net verdere lyding veroorsaak het.”
Drie klein varkies was te rats om deur die inspekteurs gevang te word en is tydelik op die plaas met genoeg water en kos agtergelaat.
Die inspekteurs het die volgende dag na die plaas teruggekeer waar twee aandeelhouers van die varkboerdery aangetref is. Aanklagte van dieremishandeling is teen hulle aanhangig gemaak. Die polisie sal die boerdery monitor totdat die oorblywende drie varkies verwyder kan word.
- Foto: NDBV
- Foto: NDBV
- Foto: NDBV
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
40 Kommentare
No you are wrong no duplication of what was said ????.
Dit is die gevolg van ñ grondeis , die regering het nie geld gegee nie , dan word die boerdery net so gelos .
Daar is n spesiale plek in die hel vir sulke tipes. Ek wonder hoeveel ander gevalle is daar wat ons nie eers van weet nie. Diere se hel is op hierdie aarde.
Em wonder wie was die aandeelhouers en aan wie behoort die varkplaas…
Ek het nog nooit in my lewe n vark gesien wat in so n uitgehongerde toestand is nie! Voor ek die storie gelees het ,het ek nie eens geweet dit is varke op die foto nie! Verskriklik!