
Die polisie op die toneel. Die foto is digitaal gemanipuleer om die liggaam te verbloem. Foto: Verskaf
Die Gautengse polisie het ʼn moontlike verbinding gemaak nadat drie verkoolde liggame Maandagoggend in ʼn veld buite ʼn spog-gholflandgoed in Pretoria gevind is.
Maroela Media het vroeër berig twee volwassenes en ʼn kind, vermoedelik 13 jaar oud, se liggame is omstreeks 02:30 in ʼn veld buite die Copperleaf-landgoed in die Mnandi-omgewing gevind.
Veiligheidsbeamptes by die landgoed was besig met ʼn patrollie toe hulle ʼn brand in die veld opgemerk het. Hulle het gaan ondersoek instel en op die liggame afgekom. Die mense was vasgebind en hul monde toegebind.
Die liggame was onherkenbaar verbrand.
Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê nadoodse ondersoeke word deur die loop van die oggend gedoen om die geslag en ouderdom van die oorledenes asook die oorsaak van hul dood te bepaal.
“Die moontlikheid word ondersoek of die drie mense verbind kan word met ʼn huisroof en ontvoering van ʼn gesin van Northcliff in Johannesburg deur die loop van Sondagnag. Drie mense is tydens die voorval ontvoer,” het hy gesê.
Makhubele het gesê naasbestaandes van dié gesin sal Dinsdag ná die nadoodse ondersoek die oorskot gewys word vir moontlike leidrade om die mense uit te ken.
Die Erasmia-polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Is muilband die korrekte woord vir mense?
Muilband: Band wat styf om ‘n persoon se mond gebind word om hom of haar te verhinder om te praat.
Hierdie mense was wreed vermoor.
Genade wat gaan aan in hierdie land.
Om gemuilband te word beteken om stil gemaak te word. In hierdie geval was hulle monde toegeplak.
As ek dit nie mis het nie beteken muilband jou moet was toe gemaak. So dalk was hul nog lewendig. Dis verskriklik. My hart gaan uit na die familie.