‘Gruwelike’ kindermishandeling nie vervolg

Adv. Gerrie Nel Donderdag gedurende ‘n mediakonferensie oor die seksuele mishandeling van verskeie kinders. (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Die inhoud van die berig is grafies van aard en nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes word gekap oor sy klaarblyklike versuim om te vervolg in vier van die ernstigste sake van die seksuele mishandeling van kinders wat die burgerregteorganisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid nóg teëgekom het.

Die eenheid het Donderdag bekend gemaak dat die NVG die klagtes teen die beskuldigdes in drie ernstige gevalle van seksuele mishandeling van kinders in die landdroshof in Brits teruggetrek het – dít ten spyte van “oorweldigende bewyse”.

In die vierde geval is vervolging wel teen sommige van die beskuldigdes ingestel, maar versuim die NVG om die ander verdagtes te vervolg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die betrokke gevalle bevat van die gruwelikste seksuele misdade teen kinders wat hy al in sy loopbaan teëgekom het.

Nel en sy span het nou ’n skrywe aan adv. Sibongile Mzinyathi, die direkteur van openbare vervolging in Pretoria, gerig om te eis dat die NVG vervolging instel of herinstel teen alle partye teen wie daar prima facie-bewyse is.

Die privaatvervolgingseenheid versoek dat die direkteur ’n dringende ondersoek las na die skynbare onbekwaamheid van wetstoepassers in die Brits-jurisdiksie met betrekking tot die hantering van die betrokke sake.

“Ten spyte van die erge graad van mishandeling, blyk dit egter dat wetstoepassers in Brits óf onbekwaam óf onwillig is om die kinders te beskerm. Hierdie kinders word nie net deur hul ouers en oppassers versaak nie, maar ook deur die strafregstelsel,” meen Nel.

(Argieffoto)

Stiefpa verkrag glo meisie

In een geval het ’n vyfjarige meisie aan ’n maatskaplike werker vertel hoe haar stiefpa saans haar kamer binnegekom en haar op verskeie wyses gepenetreer het. Die dogtertjie het vertel dat dit seer was en daar was baie bloed.

Die stiefpa het die meisie na bewering ook met ’n belt aangerand en haar mond tydens die verkragtings toegedruk sodat sy nie moes huil nie. Bewyse dui volgens Nel boonop daarop dat die kind se ma bewus was van die verkragting en aand na aand gehoor het hoe die kind huil.

Die ma het egter in ’n brief aan hul pastoor se vrou geskryf dat die Here verhoed het dat sy haar dogter se kamer binnegaan, ingeval die verdagte gewelddadig raak. Sy het ook in ’n e-pos erken dat sy van die verkragting bewus was.

Nel sê die NVG het, sonder om redes te verskaf, die saak teen die stiefpa teruggetrek.

Alan Lewis, regsverteenwoordiger van die stiefpa, het egter intussen aan Maroela Media gesê die saak is teruggetrek nadat twee onderskeie mediese verslae in die dossier daarop gedui het dat die kind nie verkrag is nie. Die staatsaanklaer het ook daarop gewys dat die beweerde slagoffer twee teenstrydige verklarings afgelê het.

Baba in vrieskas gebêre

In nóg ’n geval het die biologiese ma van die slagoffer, wat op daardie stadium maar sewe weke oud was, aan ’n kleuterskoolonderwyseres erken dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het wanneer hy te veel gehuil het.

Die baba het brandwonde opgedoen weens die langdurige periodes wat hy in die vrieskas moes deurbring. Die J88-vorm, wat die aard van ’n slagoffer se beserings uiteensit, bevat ’n lys van 12 beserings.

Die ma en pa van die baba is albei in November verlede jaar reeds aangekla. Die aanklaer het intussen glo sonder enige rede die saak teruggetrek.

Kleuter glo deur pa gemolesteer

In ’n ander geval is ’n twee-en-’n-half-jarige dogtertjie só erg seksueel gemolesteer dat haar ma haar met ’n doekie in haar onderklere skool toe gestuur het om die bloeding weg te steek. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê die enigste logiese afleiding uit die kind se verklaring is dat die beserings deur haar pa toegedien is. Tog het die NVG ook versuim om vervolging in te stel.

Kind deur ma, ouma uitverhuur

(Argieffoto ter illustrasie: Volodymyr Hryshchenko/Unsplash)

In die vierde saak kan volgens die eenheid uit getuienis afgelei word dat ’n sesjarige meisie se ouma en ma haar as ’n kommoditeit gebruik het deur toe te laat dat sy verkrag word teen betaling.

Die meisie het beskryf hoe oortreders ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het tydens die voorvalle van verkragting en seksuele molestering om te keer dat sy enige geraas maak.

Drie van die vermeende oortreders is aangekla nadat die eenheid einde verlede maand by die saak betrokke geraak het. Nog twee verdagtes wat deur die dogtertjie geïdentifiseer is, is egter nog nie in hegtenis geneem nie.

Die NVG het glo ook versuim om die ouma en ander vermeende oortreder aan te kla.

Nel wys daarop dat die voorvalle “gruwelike” gevalle van kindermishandeling is.

“In gevalle waar ouers of oppassers nie kinders beskerm nie, vereis die samelewing dat wetstoepassers intree en die beste belange van die kind vooropstel. Die regering doen egter bloot lippediens aan die geveg teen geweld teen kinders.

“Ons sien geen verbetering op die vlak waar dit eintlik tel nie – ons howe. Verder is dit jammer dat ons nie hierdie verdagtes se name bekend kan maak nie. Hoewel ons verstaan dat die Strafproseswet beoog om kinders te beskerm deur te verbied dat oortreders se identiteit bekend gemaak word, beskerm dit in gevalle soos hierdie eerder pedofiele. Die samelewing het ’n reg om te weet wie hierdie oortreders is,” sê Nel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree in die betrokke sake op namens ’n versorger by Place of Safety, en adv. Sylna Neuland.

  • Hierdie berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elize ·

Dankie Adv Nel dat u toetree tot hierdie geveg waar hierdie kinders nie ‘n stem het nie en u en u span dit kan word. Ek word so woedend dat ek voel of ek ‘n aanval gaan kry. Sulke mense verdien dit om te hang.

ES ·

My bloed kook as ek hoor van mense wat dit aan kinders doen! Wie sit ‘n 7 weke oue baba in ‘n vrieskas?? Siek siek siek mense daar buite – en hoekom vervolg die NVG nie hierdie mense nie?

Die regters behoort sommer geskors te word vir hul versuim om die misdadigers te vervolg!

Oros Soros ·

Staatsaanklaers vervolg. Regsters sit voor in sake wat voor hulle gebring word deur die aanklaer. Regters kla nie aan nie.

Toy ·

Die kinders se ma’s moenie hulle ma’s genoem word nie hulle is nie dit werd om ‘n ma genoem te word nie. Jy is daar om jou kind te beskerm en veilig te laat voel en dan laat hulle so iets toe. Daar is geen verskoning vir so ouer nie, dit is ‘n skande en wreed teenoor die kindertjies.

TO ·

Dis iets verskriklik, ek voel hoe tap die lewe uit my liggaam as ek dink wat daardie kindertjies moes deurgaan. Dankie liewe Heer vir Afriforum en ‘n Gerrie Nel. Ek kry skaam om te sê eks is ‘n Suid-Afrikaner as ek na sommige in ons Polisiemag kyk.

Maggies ·

Ek stem saam met Gerrie Nel. Dit is jammer dat hierdie mense se name nie bekend gemaak mag word nie.

Tanniepetoors ·

Ek hoop van harte die privaat vervolging slaag. Hierdie tipe dade mag nie ongestraf bly nie.

Nico ·

Lyfstraf word verbied en is strafbaar. Kyk, nou hoe word kinders verniel en daar word niks aan gedoen nie, waar is die kinder beskermings wette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.