Gryslys gaan SA ekonomie knou

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Die aankondiging dat Suid-Afrika op die internasionale gryslys geplaas is, laat talle politici bekommerd oor die uitwerking wat dit op die reeds sukkelende ekonomie gaan hê.

Opposisiepartye voer aan dat daadwerklike stappe nie deur die regering gedoen is om die gryslys te vermy nie, daarom sal dit Suid-Afrika duur te staan kom.

Volgens Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor finansies, het die regering gans te laat gewag om die nodige stappe te doen om die gryslys te vermy. Onder andere is die Wysigingswetsontwerp op Algemene Wetgewing (Bekamping van Geldwassery en Terrorisme-finansiering) eers einde November verlede jaar in die parlement gedebatteer.

Ná ʼn 12 maande lange waarnemingstydperk om te sien of Suid-Afrika die stand van sake kon verbeter, het die internasionale waghond teen geldwassery en terreurfinansiering, die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF), Vrydag aangekondig dat Suid-Afrika op die gryslys is.

“Die internasionale gemeenskap het nou amptelik die stempel op Suid-Afrika geplaas as ʼn land waar korrupsie en bedrog hoogty vier,” sê Wessels.

Suid-Afrika is egter nie die enigste Afrika-land wat op die gryslys is nie. Nigerië is ook Vrydag hierop geplaas, saam met lande soos Tanzanië, Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Vir Suid-Afrika om saam met Nigerië op dié lys te pronk, is ʼn nuwe laagtepunt en gaan die land se aansien in die buiteland selfs verder benadeel,” meen Wessels.

Hy voer aan dat die verwikkeling ernstige komplikasies vir die land inhou en sy mense nog verder in krisisse gaan dompel.

“Dit beteken dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) ʼn ernstige knou gaan kry. Lande wat op die gryslys geplaas word, het dadelik ʼn verlies aan direkte kapitaal – asook buitelandse beleggings.”

Die rand het kort ná die aankondiging reeds verswak en verhandel nou op R18,46 teen die dollar.

“Gegewe Suid-Afrika se huidige ekonomiese toestand ná die Covid-19-pandemie, die reuse‑werkloosheidsyfer en die voortslepende kragkrisis, kon die land nie bekostig het om ook op die gryslys te beland nie.”

Johann Krige, ActionSA se direkteur van beleid, beaam dit en is bekommerd oor ekonomiese groei wat nog meer gestuit gaan word.

Hy voer aan dat Suid-Afrikaanse ondernemings nou nog meer struikelblokke tot groei sal ondervind, aangesien die koste om internasionaal sake te doen gaan verhoog.

“As ontleders se skattings korrek is, kan Suid-Afrika se ekonomiese groei met ʼn bykomende 1% tot 3% per jaar inkrimp – iets wat ons geensins kan bekostig nie.”

Krige het wel erkenning gegee aan die amptenare verbonde aan die Finansiële Intelligensiesentrum wat onverpoos gewerk het om die gryslys te vermy.

“Ongelukkig kan die doeltreffendste agentskappe nie hul pligte ten volle nakom in ʼn omgewing waar die mees onbekwame en korrupte mense in beheer is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.