Gryslys: SA het tot 2025 om leemtes reg te stel

Minister Enoch Godongwana. (Foto: Twitter)

Suid-Afrika het tot November 2025 om agt tekortkominge wat deur die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) geïdentifiseer is, reg te stel.

Versuim om dit teen die gegewe sperdatum reg te stel, kan die land op ekonomiese gebied duur te staan kom.

Die nasionale tesourie het kort ná die aankondiging dat Suid-Afrika op die internasionale gryslys geplaas is, uiteengesit wat die volgende stappe is.

Die internasionale waghond teen geldwassery en terreurfinansiering het vroeër meer as 130 tekortkominge uitgewys betreffende die land se vermoë om finansiële misdaad te bekamp en 67 aanbevelings gedoen om dit hok te slaan.

Tog is daar steeds agt tekortkominge rakende die doeltreffendheid waarmee die wetgewing teen finansiële misdade geïmplementeer word waaraan aandag geskenk moet word.

Volgens die tesourie is daar niks op die lys wat na probleme verwys wat direk met die finansiële sektor verband hou nie, daarom die verwagting dat die verhoogde monitering ʼn beperkte invloed op finansiële stabiliteit sal hê en die koste om in Suid-Afrika sake te doen.

Die regering is glo reeds besig om werk daarvan te maak om die oorblywende agt tekortkominge te takel en verwag om al die probleme teen Januarie 2025 opgelos te hê.

Enoch Godongwana, die minister van finansies, het reeds die president van die FATF, Raja Kumar, in kennis gestel dat Suid-Afrika die aksieplan deurwerk en alle uitstaande tekortkominge “vinnig en doeltreffend” sal hanteer.

Die FATF het agt strategiese tekortkominge uitgelig waar van Suid-Afrika verwag word om op te tree deur –

  1. bewys te lewer van ʼn deurlopende groei in versoeke om internasionale bystand wat ondersoeke na geldwassery en die finansiering van terreur sal fasiliteer en beslaglegging op verskillende soorte bates in lyn met die risikoprofiel;
  2. toesig oor sakeondernemings en beroepe wat geïdentifiseer is as ʼn risiko vir geldwassery, te verbeter en behoorlike strawwe vir nievoldoening op te lê;
  3. te verseker dat bevoegde owerhede tydige toegang tot akkurate en bygewerkte inligting het oor die eienaar (voordelige eienaar) wat baat vind by ʼn regspersoon. Gepaste strawwe moet aan die regspersoon opgelê word indien die vereistes oor die voordelige eienaar nie nagekom word nie;
  4. ʼn deurlopende ​​toename in wetstoepassingsagentskappe se versoeke vir finansiële intelligensie van die Finansiële Intelligensiesentrum vir sy ondersoeke na geldwasserye en terreurfinansiering te toon;
  5. bewys te lewer van ʼn volgehoue ​​toename in ondersoeke en vervolgings van ernstige en komplekse geldwasserysake;
  6. die vermoë te verbeter om verwante misdade te identifiseer en op die opbrengste daarvan beslag te lê;
  7. die risiko-ontleding van terreurfinansiering by te werk sodat ʼn omvattende nasionale strategie om dit te bekamp, opgestel kan word;
  8. te verseker dat geteikende finansiële sanksies geïmplementeer word en te bewys dat doeltreffende meganismes gebruik word om individue en entiteite te identifiseer wat aan die kriteria voldoen.

“Die regering erken dat dit in die belang van alle Suid-Afrikaners sal wees om hierdie tekortkominge te takel en dat dit in ooreenstemming is met ons bestaande verbintenis om die instellings te herbou wat verswak is in die tydperk van staatskaping,” sê die tesourie.

Die ANC het op sy beurt gesê dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) veral geknou is gedurende die jare van staatskaping.

“Dit is prysenswaardig om te sien wat die SAID vermag het om sy volle kapasiteit te herstel,” sê Mahlengi Bhengu-Motsiri, woordvoerder van die ANC.

“Net so prys ons die regering se pogings om die kapasiteit van misdaadvoorkoming en die veiligheidsektor te herstel. Die suksesse hiervan kan gesien word in die getal inhegtenisnemings wat gedoen is, gelde wat teruggevind is en aantal sake wat voor die hof gebring is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Moet tog asb nie asem-ophou tot 2025 nie, dit kan dalk te laat wees… om weer te probeer… asem-haal.

Papsak ·

Asb moenie solank wag nie dit gaan te laat wees luister nou !!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.