Gumede, ander ANC-raadslede ‘herontplooi’

Zandile Gumede, burgemeester van die Ethekwini-metromunisipaliteit. Foto: Bongani Mbatha/ANA

Die ANC in KwaZulu-Natal het Zandile Gumede, die burgemeester van die eThekwini-munisipaliteit wat strafregtelik vervolg word, herontplooi.

Mdumiseni Ntuli, woordvoerder van die provinsiale ANC, het Dinsdag die aankondiging by die party se provinsiale hoofkantoor gemaak.

Die burgemeester van die Msunduzi-munisipaliteit, wat Pietermaritzburg insluit, is ook herontplooi.

Die aankondiging volg nadat die party se provinsiale uitvoerende komitee van Sondag tot Maandagaand vergader het. Volgens Ntuli was die hoofdoel van die vergadering om ʼn verslag te hersien van die provinsiale werkkomitee oor die stand van regering in die provinsie.

Ntuli het gesê die verslag het tot dié besluit gelei, asook die ANC se behoefte om bo verdenking te wees en sy munisipaliteite te herfokus om in die beste belang van die provinsie op te tree.

Daar is vyf kwessies wat in die verslag geopper is, wat volgens Ntuli kommerwekkend is.

“In sommige munisipaliteite is daar uitdagings om inkomste in te samel weens swak stelsels en beplanning,” het hy gesê.

Onderbesteding van munisipale toelaes weens swak beplanning is ook geïdentifiseer.

Die munisipaliteite gebruik ook artikels 32 en 36 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur te gereeld om kontrakte te laat aanvaar, sonder om te verseker dat die besluite aan die wet voldoen.

“Daar is ook ’n volgehoue patroon van oortredings en swak besluitneming in sommige munisipaliteite met geen gevolge nie.”

Ntuli het gesê dat daar ’n onvermoë is om aan die aanbevelings van die ouditeur-generaal te voldoen, wat gelei het tot groot uitgawes vir litigasie met geld wat vir dienslewering gebruik moes word.

“In die geval van eThekwini is daar ook ʼn onvermoë om ’n ordentlike faktuurstelsel te bestuur wat belastingbetalers nie penaliseer nie,” het Ntuli gesê.

Die provinsiale uitvoerende komitee was dit eens dat die voortgesette en volgehoue agteruitgang van die twee grootste stede in die provinsie dringend aandag verg.

Ntuli het gesê alle vakatures as gevolg van die besluit moet binne sewe dae gevul word, en dat daar nog nie geskikte kandidate geïdentifiseer is nie.

Afgesien van Gumede het Fawzia Peer, onderburgemeester, speaker William Mapena en hoofsweep Nelly Nyanisa ook die trekpas gekry.

Raadslede ZamaZulu Sokhabase, voorsitter van die komitee vir gemeenskapsdienste, Sipho Kaunda, voorsitter van die komitee vir ekonomiese ontwikkeling en beplanning, Mondli Mthembu, voorsitter van die komitee vir menslike nedersettings en infrastruktuur, en Barbara Fortein, voorsitter van die komitee vir bestuur en menslike hulpbronne, is ook herontplooi.

Op ʼn vraag aan Ntuli oor hoekom die beamptes herontplooi word en nie afgedank word nie, het hy gesê dit beteken nie dat indien iemand herontplooi word die persoon heeltemal onbekwaam is nie. “Ons moet ʼn plek vind waar hulle ʼn bydrae kan maak.”

Gumede is in Mei saam met Mondli Mthembu, ANC-raadslid in eThekwini, aangekla vir beweerde tenderbedrog, korrupsie en rampokkery rakende ʼn R208 miljoen-kontrak vir die verwydering van vaste afval in Durban.

Verskeie ander mense is twee weke vroeër in hegtenis geneem, insluitend twee senior eThekwini-beamptes en sakelui, in verband met die misdaad. Al die beskuldigdes sal in Januarie volgende jaar in die hof verskyn.

Gumede is tans uit op borgtog van R50 000 en is deur die ANC op spesiale verlof geplaas, wat al twee keer verleng moes word.

Tydens Gumede se eerste hofverskyning het die hof gehoor dat sy na bewering die toekenning van tenders beïnvloed het en personeel opdrag gegee het om die wet te oortree. Sy het ook na bewering ʼn optog teen die stadsbestuurder, Sipho Nzuza, gereël om daarop aan te dring dat hy afgedank word nadat hy geweier het om maatskappye te betaal vir die onreëlmatige kontrakte wat hulle bekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Was daar nie ‘n James Bond fliek ” Steal Another Day” nie?

Nonnie

Tipies ANC…….ontplooi hulle skelm, onbevoegde kaders alweer om op ander plekke verder bedrog te pleeg……….RERIG RAMAPHOSA…..IS DIT HOE JY BEDROG UITROEI OF UITBREI????????????

Suzette Geringer

Herontplooi – wat ‘n grap – net om op ‘n ander plek verder te gaan vrot.

Coco

Regtig skuif net die probleem en spreek nie die probleem aan en doen geen disiplinere optrede nie SKANDELIK

blouapie

Is daar vasgestel hoeveel van die R208 miljoen is in haar sakke? Nee – want sy word her-ontplooi!