Gupta-bondgenote pleit onskuld in Estina-saak

Kamal Vasram en Saliesh Indurjeeth. (Foto: Verskaf)

Die twee bondgenote van die Gupta-broers wat by die omstrede Estina-suiwelprojek betrek word, het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Kamal Vasram en Saliesh Indurjeeth, voormalige direkteure van die omstrede suiwelprojek in die Vrystaat, het vandeesweek in die streekhof in Pretoria verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery wat voortspruit uit die “beweerde plundering van die Vrystaatse departement van landbou”.

Sindisiwe Seboka, nasionale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê kort nadat Vasram en Indurjeeth onskuldig gepleit het, is die staat se eerste getuie geroep.

Piet Swart, ʼn ondersoeker verbonde aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het getuig oor die uitklaringsdokumente wat verband hou met nege skeepvaarthouers wat verskeie suiweltoerusting vervoer het.

Die ondersoek het vasgestel dat Estina uitklaringsdokumente ingedien het ter stawing van ʼn BTW-terugbetalingeis. Die uitklaringsdokumente is toe onder die spreekwoordelike vergrootglas geplaas, waarna vasgestel is dat die verklaarde waarde van meer as R37,7 miljoen vir ʼn sogenaamde “nuwe” pasteuriseringsaanleg, buitensporig hoog was.

Die pasteuriseringsaanleg wat na bewering uit Indië ingevoer is, is deur Gateway Limited in die Verenigde Arabiese Emirate aan Estina gefaktureer.

“Bewyse wat reeds in die openbare domein is, dui daarop dat Gateway deur die Guptas gebruik en beheer is as ʼn kanaal om geld te was en geld uit Suid-Afrika te onttrek,” het Seboka gesê.

Vasram en Indurjeeth is deel van vier ander beskuldigdes in die saak.

Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, Seipati Dlamini, destydse finansiële hoof van die departement, en Takisi Janki Masiteng, voormalige hoofbestuurder van distriksdienste in die departement, is ook beskuldigdes in die saak.

Verskeie regeringshoës in die Vrystaat word jare lank al daarvan verdink dat hulle die Estina-suiwelproduk as ʼn melkkoei gebruik het om die departement se geld te tap.

Volgens Seboka sal die verhoor Dinsdag voortgesit word. Die verhoor sal na verwagting tot Donderdag duur.

Lees al Maroela Media se berigte oor die omstrede Estina-suiwelprojek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.