Gupta-broer het my geïntimideer, sê oud-Eskom-voorsitter

Zola Tsotsi, voormalige raadsvoorsitter van Eskom (Foto: Chantelle Presence, ANA)

Tony Gupta, een van die broers wat geïmpliseer word in bewerings van staatskaping in Suid-Afrika, sou die voormalige raadsvoorsitter van Eskom vra vir sakegunste, en as hy geweier het, het Gupta gedreig om hom by uBaba aan te meld, het LP’s Woensdag gehoor.

“As ek nie in staat was om vir hom die gunste te doen nie, het hy omgedraai en gesê hy moet my by uBaba rapporteer, want hy werk met Baba se vyande,” het Zola Tsotsi gesê terwyl hy getuig het in die parlementêre ondersoek oor bewerings van staatskaping by Eskom. “Ek het die indruk gekry dat hy ʼn baie nou verhouding met Baba het.”

uBaba is die term wat gebruik word wanneer daar na pres. Jacob Zuma verwys word, wat naby vriende is met die Guptas. Tsotsi het vroeër gesê hy was ook teenwoordig by ʼn vergadering waar nóg ʼn Zuma-vriend en voormalige SAL-raadsvoorsitter, Dudu Myeni, vir hom gesê het drie Eskom-hoofde sal geskors word oor ʼn ondersoek by Eskom.

Tsotsi wou nie Zuma direk impliseer dat hy opdragte gegee het oor sake by Eskom nie, en het gesê toe Myeni hom na die president se huis in Durban ontbied het, het Zuma by die kamer ingekom en wou weet waaroor die vergadering handel, en wou bloot weet “of Tsotsi weet wie die hoofde is wat geskors gaan word”.

“Die feit dat die president daarvan bewus was en geweet het, sê vir my dat, aangesien hy die staatshoof is, en belangstel in ʼn saak van dié aard, dat die raad die kwessie moet ondersoek en moet kyk hoe ons ons pligte kan uitvoer en dat dit voor die aandeelhouersverteenwoordiger getoets moet word.”

Tsotsi het gesê ʼn raadsvergadering is daarna belê en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het haar ondersteuning gegee vir ʼn ondersoek en die skorsing van die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Eskom Tshediso Matona, uitvoerende hoof van groepskapitaal Dan Marokane, en voormalige direkteur van finansies Tsholofelo Molefe. Die drie persone is geskors sodat ʼn ondersoek in 2015 by Eskom gedoen kon word. Hulle is later by die maatskappy weg, elkeen met ʼn goue handdruk, en geen bewyse dat hulle ʼn oortreding begaan het nie, maar hulle reputasies het skade gely, het Tsotsi aan die LP’s gesê.

Op die vraag of Brown ook gekaap is deur die Gupta-familie, het hy gesê: “Daar is ʼn duidelike samewerking en ʼn duidelike verband tussen minister Brown en die Gupta-familie.”

Hy het gesê hy is in Desember 2014 na Brown se huis ontbied en toe hy daar aankom, was Tony Gupta en Salim Essa, ʼn bekende sakevennoot van die familie, reeds teenwoordig. Hulle het tydens dié vergadering die pligte van raadslede bespreek.

“Wat gebeur het, is dat Salim Essa sy idee oor ʼn raadsallokasie sou voorstel, en hy het my gevra om dit dan aan die minister te oorhandig,” het Tsotsi gesê. “Ek het ʼn lys van Essa gekry en ek sou die lys verander volgens dit wat ek gedink het dit behoort te wees. Sy [Brown] het dan die lys terug verander … kom ons stel dit só – my hande was gebind.”

Tsotsi onthou ook ʼn voorval waar Tony Gupta hulp gesoek het om ʼn kontrak te bekom om gas aan oopsiklus-turbines (OCGT’s) in die Wes-Kaap te verskaf. Die OCGT’s is gebruik om krag aan Suid-Afrika te voorsien toe die land ʼn energiekrisis beleef het.

Tsotsi het gesê hy het vir Gupta verduidelik dat Eskom reeds ʼn memorandum van verstandhouding afgehandel het sodat ʼn ander maatskappy die gas kan lewer. Gupta was nie gelukkig hiermee nie. “Hy [Tony Gupta] het toe later teruggekom en gekla en gesê ons het met uBaba se vyand te doen.”

Op ʼn vraag of hy bedreig gevoel het deur die Guptas, het Tsotsi geantwoord: “Daar was duidelik ʼn element van intimidasie en ek het gewerk op die basis dat, as die president nie tevrede is met dit wat ek doen ten opsigte van dié mans nie, sal hy na my toe kom en sê hy is ontevrede.”

Tsotsi het vroeër toegegee dat hy versuim het om sy vertrouenspligte uit te voer as raadsvoorsitter van Eskom, en dat hy ook die land en die drie hoofde, wat afgedank is, in die steek gelaat het.

“Ek vra regtig om verskoning,” het hy gesê. “As leiers by hierdie instansies het ons ʼn morele plig om verantwoordelikheid en die gevolge daarvan te aanvaar.”

Brown het intussen Tsotsi se bewerings ontken. “Ek het nooit met enigiemand gekonsulteer oor my uitvoerende pligte nie. Nie met Tony Gupta of Salim Essa of enigiemand anders nie. Waarom sou ek my pligte aan enigiemand anders oorgee?” wou Brown weet.

Brown het gesê sy is geskok dat Tsotsi met Zuma sou vergader sonder om haar in kennis te stel en sy ontken dat sy ooit hiervan geweet het. “Ek is verstom dat mnr. Tsotsi dink dit is behoorlik om ʼn vergadering met die president by te woon, sonder om met my daaroor te praat of die uitslag van sy vergadering met my te bespreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Ek het ‘n vriend gehad klomp jare gelede wat vandag vergeet het wat hy gister gesê en dan weer anders lieg. Ons stories sou stand gehou het by die vrouens as dit nie daarvoor was nie.

Hanna ·

Klink my uBaba is soos n puppet in die Guptas se hande: trek net toutjies en die nar dans! Wat n bleddie skande. Onthou jou groot vriend Mugabe, uBaba, onthou wat het gebeur net Noord van jou…

Frans C ·

Minister Brown ly aan selektiewe geheue verlies,lyk dit vir my.Om selfoonrekords of afskrifte van e-posse te bekom sal baie moeilik wees aangesien sy sal skuil agter so iets soos ‘staatsveiligheid’ ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.