Gupta-broers het nooit burgerskap gehad nie, sê Gigaba

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het Dinsdag in die parlement gesê Ajay sowel as Atul Gupta het nié Suid-Afrikaanse burgerskap nie omdat hulle glo geweier het om hul Indiese burgerskap op te gee.

Gigaba het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê slegs Ajay se vrou, ma en sy twee kinders het Suid-Afrikaanse burgerskap. Ajay en Atul het volgens hom permanente verblyfpermitte.

“Hulle [die Gupta-broers] is gevra om afstand te doen van hul Indiese burgerskap, waarna Ajay Gupta geweier het. Hy is daarom nie ʼn burger van Suid-Afrika nie,” het Gigaba gesê.

Die broers het appèl aangeteken waarna ʼn departementele paneel weer na die saak gekyk het. Daar is glo bevind dat die gesin duisende werkers in Suid-Afrika in diens neem en by verskeie filantropiese aktiwiteite betrokke was.

“As ons van plan was om die Gupta-familie te bevoordeel en aan hulle burgerskap toe te staan ongeag wat die wet bepaal, sou ons nie gevra het dat hulle afstand doen van hul Indiese burgerskap nie,” het hy gesê.

Gigaba en Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement van binnelandse sake, het gesê daar was geen manier om vooraf te weet dat die Gupta-familie betrokke sou wees by beweerde oortredings en misdade nie.

Op ʼn vraag of Ajay, wat deur die polisie as ʼn voortvlugtige beskou word omdat hy nie ʼn ooreenkoms nagekom het om in die hof te verskyn nie, se verblyfpermit gekanselleer sal word, het Gigaba geantwoord: “Om te weet wat ons nou weet is nog nie voldoende om die permanente verblyfpermitte van die twee broers te kanselleer nie. Daar moet eers ʼn amptelike proses in die hof aan die gang gesit word. Ons kan eers ná ʼn hofuitspraak stappe doen.”

Die Gupta-broers is al geruime tyd in die middelpunt oor bewerings van staatskaping. Die familie word ook beskuldig van bedrog in verband met Vrede-suiwelprojek en van die plundering van staatshulpbronne.

Belastinginspekteurs in Indië het Dinsdag ʼn klopjag uitgevoer op eiendomme wat aan die Gupta-familie behoort, in verband met die vermoede dat hulle geld na hul land van oorsprong terugbring het, het ʼn beampte gesê.

Volgens Times of India het Amrendra Kumar, ʼn senior inkomstebelastingbeampte in Uttar Pradesh  in Indië, gesê die Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh, word daarvan verdink dat hulle maniere vind om “onwettige geld”, wat hulle oorsee verdien het, na Indië te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hanna ·

Skop net stof op: daar gaan absoluut niks met hulle gebeur nie! Die Guptas lag al die pad bank toe.

Ina ·

‘Voldoende genoeg’? Is dit reg? As iets voldoende is dan is dit mos genoeg, dis onnodig om die twee woorde saam te gebruik. Ek sê maar net.

Tania Heyns ·

Dagsê Ina

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

HP ·

Gigaba lieg al weer, Die Gupta’s het almal paspoorte wat wys hulle is ‘n SA burger. Mens kan nie ‘n SA paspoort kry as jy nie ‘n burger is nie.

E.K. die eerste ·

En tog het hul vanoggend op Enews foto’s van hul pasoorte gewys waar dit DUIDELIK WYS hul is Suid AFrikaners!! Gigaba – dat mens jouself nou so in ‘n hoek kan inlieg!

Poot ·

Gigaba lieg nie. Hy weet eenvoudig nie wat aangaan nie. Die “minister” praat uit onkunde uit. Daars ‘n groot verskil.

Clem ·

Jip, die kiesersregister wys ook hulle is geregistreer, jy kan nie ‘n geregistreerde kieser wees as jy nie burgerskap het nie. Dink hierdie Gigaba regtig die publiek is te dom om hom uit te vang of Gigaba te dom om te weet hy word uitgevang?

Rynhardt ·

Toe Guptas weier om afstand te doen van hul burgesrskap moes hul dadelik land verlaat het.Gigaba weet meer as wat hy voorgee!Nes sy vriend Zuma moes hy lankal die trekpas gekry het.Daar was verskeie rolspelers wat toutjies getrek het vir Guptas wat SA met mening laat stagneer het.

Steven ·

Google : Guptas voting Aug 2016…al die fotos is daar waar al drie broer gestem het….

Anoniem ·

Mmm, is Gigaba Binnelandse Sake toe geskuif om gou gou alle tekens van die Guptas se burgerskap te laat verdwyn? Minister Gigaba, jy het ‘n paar skroewe los as jy dink mense val vir jou leuens!

Alida ·

Hy is met ‘n doel terug geskuif om die spore dood te vee. Nou lieg hy homself so in ‘n hoek in en dink ons glo die maan is van kaas gemaak.

Lerato ·

So die Guptas is nie Suid Afrikaanse burgers nie. Nou waarom “leen” die IDC vir uitlanders miljoene, terwyl die geld bedoel is om opkomende SUID AFRIKAANS mense te help

Estelle Gerber ·

Gigaba lieg…kyk op Vytjie Mentor se facebook blad…al die bewyse dat die Guptas Suid-Afrikaanse burgers is, asook geregistreer is op die stemrol is op haar blad!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.