Gupta-burgerskap: LP’s boos oor ministers se afwesigheid

Malusi Gigaba se brief aan die Gupta-familie (Foto via Julius Malema, leier van die EFF)

LP’s van die opposisiepartye was Dinsdagoggend woedend nadat Hlengiwe Mkhize, minister van binnelandse sake, en haar voorganger, Malusi Gigaba, nie teenwoordig was nie by ʼn parlementêre vergadering oor die toekenning van vervroegde burgerskap aan lede van die Gupta-familie.

Dit het tydens ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake aan die lig gekom dat die ministers tans oorsee is. ʼn Afvaardiging van die departement, wat Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement, insluit, is egter gestuur om die komitee op hoogte te bring van sake.

John Steenhuizen, hoofsweep van die DA, het gesê hoewel die teenwoordigheid van ʼn afvaardiging van die departement waardeer word, hulle nie verantwoordelik was vir die besluit om vroeë burgerskap aan Ajay Gupta, sy vrou Shivani, sy ma Angoori, en sy seuns Kamal Kant Singhala en Surya Kant Singhala toe te ken nie.

“Die mense voor ons is nóg verantwoordelik nóg verantwoordbaar vir die besluit wat geneem is.” Steenhuisen het voortgegaan om Gigaba en Mkhize daarvan te beskuldig dat hulle ʼn georkestreerde poging aangewend het om nie verantwoordbaar gehou te word nie.

Steenhuisen het die komitee versoek om die ministers te dwing om voor die komitee te verskyn. Donald Gumede, ANC-LP, het LP’s van die opposisiepartye egter versoek om die uitvoerende gesag te respekteer en gesê die ministers is genooi, maar nie gedwing om voor die komitee te verskyn nie.

Corné Mulder van die VF Plus het gesê indien die ministers slegs “genooi” is, het hulle nie die uitnodiging aanvaar nie en moet hulle nou gedwing word om voor die komitee te verskyn.

Apleni en sy span is later toegelaat om die departement se posisie aan LP’s te begin verduidelik. Die EFF het vroeër die maand twee dokumente bekend gemaak: die een ’n brief waarin Suid-Afrikaanse burgerskap aan die Guptas geweier is; en die ander ʼn brief wat ʼn paar maande later uitgereik is waarin daar egter vroeë burgerskap aan die Guptas toegeken is. Gigaba het hierna erken die briewe is eg en het gesê sy aksies was wettig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sw ·

Geen wonder daar is soveel wetteloosheid en misdade.
Die voorbeeld wat gestel word is – arrogansie, traak-my-nie agtigheid en nie-verantwoordbaarheid

Gatvol ·

En so word die sirkus net groter en groter, g’n wonder Boswell & Wilkie sukkel met voortbestaan, die ministers aan die orde van die dag steel hulle kollig, gratis, vry en verniet (dis nou die kollig). Laat my dink aan TV realiteitsprogramme, TO BE CONTINUED……………………

Lou ·

Hoekom is ek nie verbaas nie? Daar heers ‘n algemene gees van nie-verantwoordbaarheid onder politici en staatsamptenare. Dis nooit niemand se skuld nie. Tussen al die vingerwysing word die aandag afgelei en hulle hoop dat die probleem vanself weggaan……

Eish ·

Welkom in Azania
A All
Z Zuma’s
A Aquintaces’
N ew
I inter- dependant
A account

zoom zoom ·

Seker ‘n gratis trip met gupta airline na india of dubai

Loeis ·

As ek reg onthou was daar daardie tyd oor gerugte dat die Guptas vir diplomatieke paspoorte gevra het (dit behoort ernstige vrae te laat). Weet enigeen of daar waarheid in gesteek het, en wat die uitslag was?

Corne Mulder is reg: dwing die ministers om hulself aan die parlementere komitee te verduidelik.

Johann ·

Ek sidder om te dink wat ons nie van weet nie? Want as die ooglopende misdrywe en arrogante misbruik van mag SO blatant gepleeg word met geen verandwoordbaarheid nie…wat van dit wat nie ontbloot word nie? ANC LEGACY!!!!!

Nou wat nog? ·

Met hul burgerskap, het al die probleme begin. Dink net hoeveel probleme ons sou gespaar was. Hul burgerskap, ons ondergaan!

Johan. H. ·

Beboet hulle ,dis al wat werk,, as jy hom slaan met geld, dis al wanneer die lotte wakker skrik, maar nie sommer net R10.00 nie. Tenmintste R30.000.00 vir minagting om na die hooftent te gaan, en voor die ander lot wat net sit, te verskyn,, Shame!!!

Swartkat ·

Seker amptenare en politici voel vere vir plig en daag nie vir vergaderings op as hulle moontlik in die sop is nie.

Scalla ·

Volgens die TV nuus is giggel baba oorsee, seker in opdrag van sy comrades in Dubai, wanneer hy eendag terug is moet hy volgens pligte mos verduidelik.

m ·

Wonder hoeveel is betaal vir hierdie burgerskap. Verseker nie gratis gegee nie. Alles omtrent hierdie mense het n vraagteken.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek probeer weer, miskien word my kommentaar geplaas. Ek kyk met ander oe na die Guptas.
Met die bruiloffees by Sun City was een van hul vereistes dat net blankes hul moet bedien. Ek lees ook dat hul voorkeur gee aan glankes wanneer hul van hul persele verhuur. Hierdie is blanke werkskeppers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.