‘Gupta e-posse lyk eg’

Die leierskap van die SAKP tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg (4 Junie 2017). Foto: ANA/Getrude Makhafola

Die SAKP het Sondag gesê die derduisende e-posse wat na bewering toon watter groot invloed die omstrede Gupta-familie op pres. Jacob Zuma, die Suid-Afrikaanse regering en staatsinstansies het, moet dringend ondersoek word.

Blade Nzimande, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), het tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê hy vind dit baie interessant dat niemand nog na vore gekom het om te sê die e-posse is vals nie. “Daar is ook geen stappe gedoen teen media wat oor hierdie e-posse berig nie. Ons neem aan daar sal prosesse wees om die aard van die e-posse vas te stel, maar hulle lyk eg,” het Nzimande gesê.

Die e-posse, wat deur fluitjieblasers aan die media gelek is, is deur die ANC-Jeugliga en Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) as nonsens afgemaak. Mngxitama het gesê die e-posse is vals en opgemaak om die aandag af te lei van radikale ekonomiese transformasie vir swart Suid-Afrikaners.

Die e-posse het onder meer onthul hoe die Gupta-familie na bewering betaal het vir luukse oorsese reise na Dubai vir Duduzane Zuma, Zuma se seun, Anoj Singh, Eskom se hoof finansiële beampte en Ace Magashule, die Vrystaatse premier, se twee seuns. Die e-posse onthul ook dat die Guptas na bewering vir Zuma ʼn R330 miljoen se herehuis in die eksklusiewe landgoed, Emirates Hills, in Dubai gekoop het. Die huis is in 2015 gekoop, dieselfde jaar wat Duduzane ʼn woonstel van R18 miljoen in die Burj Khalifa gekoop het.

Singh was Transnet se hoof finansiële beampte in 2014 toe hy na bewering vier keer na Dubai gereis het en in ʼn luukse suite by die Oberoi-hotel gebly het.

Nzimande het gesê Zuma en sy seun se rolle in die staatskapingbewerings is kommerwekkend. “Ons het hierdie kwessie binne die alliansie geopper en gesê in terme van die inligting wat in die openbare domein is, lyk dit glad nie goed nie. Selfs as net die helfte van daardie e-posse waar is, is dit baie ernstig. Die idee van ʼn stille staatsgreep is nie vergesog nie. Maar ons sal nie die regters wees nie, daarom sê ons ʼn geregtelike ondersoek moet onmiddellik gedoen word.”

Nzimande het gesê die Gupta-familie se “giftige invloed” op die staat moet direk aangespreek word. “Ons soek nie net nimmereindigende praatjies nie. Ons kan nie nou rondspeel terwyl die land ʼn baie ernstige probleem in die gesig staar wat dreig om ons agteruit te neem nie,” het Nzimande gesê.

Jeremy Cronin, Nzimande se adjunk, het gesê hy glo daar is sake in die e-posse wat strafregtelik vervolg kan word indien die e-posse ernstig opgeneem word. “Die e-posse dui op ʼn patroon, soos ʼn minister wat geheime kabinetsinligting [met die Guptas] deel en dit is ʼn ernstige strafregtelike oortreding. Terwyl ons wag vir die geregtelike ondersoek, is daar strafregtelike sake wat opgevolg kan word. Ons hoef nie vir ʼn lang proses te wag nie,” het Cronin gesê.

Hy het gesê die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet “wakker skrik” en verby hul faksievorming kyk om die strafregtelike sake rondom die staatskapingbewerings aan te spreek.

Die SAKP en ander alliansievennote, insluitend die ANC, sal Maandag vergader om die stand van sake in die land te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

pieter ellis ·

Praat praat en nog praat. Nee Nzimande en Cronin, as julle werklik so ernstig is oor die saak, sou julle reeds julleself van die ANCircus gedistansieer het. As julle werklik SA eerste stel, sou julle werk maak om verby politieke geskille tussen die opposisiepartye te kyk en in die belang van SA alle Zumanoids en hulle optrede verwerp. Hou op dreig en doen iets.

Johannes van Staden ·

Bla bla bla praat en praat ….en net mooi NIKS gebeur nie …waneer gaan die anc opstaan vir wat reg is ? ? Nie almal kan verkeerd wees nie …so gaan die anc van skande na skande week na week. Of is almal so vrot en stem saam met al die korrupsie ….anc is net verlam ek praat nie !

Johann Marx ·

Suid Afrika se mense is nie dom nie. Die tyd van “struggle” is verby…en die “struggle organization” wat ons tot hier ge-“struggle” het, se tyd is om. Nou kort ons ‘n “achievement organization” om ons vorentoe te vat. Dis tyd om mense-kapitaal te ontgin, en ons land, ons ekonomie en ons toekoms aan die gang te kry…..Ons het vir te lank ge-struggle…

wdp ·

BLF moet ook sommer wakker skrik – dalk moet hulle begin kyk na wie die land eerste begin ontwikkel het, al wat die ANC kan ontwikkel en voortuitvat is korupsie en misdaad

Rupert Ashford ·

BLS is ‘n Zupta organisasie, hulle is wawydwakker glo my…

EJ.Scott ·

Praat en praat en nog praat en ons land gaan al verder in sy peetjie!! Niks word gedoen aan al die probleme nie! Wat help praat nou?

Fires ·

Glo ook nie die e-posse kan van zuma afkom nie,hy is totaal en al te ongeletterd kan nie met die tipe westerse tegnologie werk nie

snoefie ·

….”soos ‘n minister wat geheime kabinets inligting () deel en dit is n ernstige strafregtelike OORTREDINGS” Aldus Jeremy Cronin. hoe dikwels het ons al gelees dat Duduzani Zuma en Edward zuma inligting wat nie openbaar is nie aan ANA bekend gemaak het. nie een van die twee is skakelbeampte of segsmens van die kabinet nie. as sulks was dit ook geheime inligting wat hulle gedeel het. wie het die inligting aan hulle bekend gemaak en hoekom was daar nooit teen hulle oogetree nie?

Eish ·

Die egtheid van die eposse is reeds deur die koerant nagegaan voor berig geplaas is. Dis hoofopskrif en materiaal vir groot naamskendings eise. Die koerant is lankal in die land.

PJ ·

Hoekom lè die regering nie beslag op die guptas se bates en verdeel dit dan onder die voorheen benadeeldes nie ?

snoefie ·

hulle kan beskag lê op die Gupta erfgename se eiendoms ook. dink hoe gaan nkandla kyk met rye en rye netjies geboude hophuisie met die beeste, bokke en hoenders wat tussendeur wei. daar is gelukkig reeds n vuurpoel ingeval n kere omval.

John ·

Dis heel moontlik dat opstande nou orals kunsmatig aangeblaas gaan word oor onbenullighede of kamma gevare van ‘elders’ wat Zuma glo sal ‘dwing’ om ‘n noodtoestand af te kondig. Veiligheidskordonne gaan getrek word rondom sekere bedreigde VIP’s en die antie se blouligte gaan oorskakel na adelike rooi. Buit gaan vinnig uitgevlieg word en … kragonderbrekings en persbeheer sal aan die wanorde van die dag wees.
Dr Zeus & $ie wil alleen warm stort.

Domvraag ·

In n eerste wereldse land sou die President lankal ondersoek gewees het en indien skuldig reeds in die tronk gewees het met al sy ministers wat ook skuldig is aan staatskaping saam met die guptas. Die rede hoekom nie opgetree word nie is dat daar meer is wat skuldig is aan korrupsie. Net 20jaar gevat om land te plunder en verwoes. Ons is n tweede Zimbabwe rommelstatus nikswerd

Jacques Venter ·

Niks sover het gehelp om Zuma te verwyder nie. Kom ons hoop die concourt sê ja vir geheime stem

GES ·

Die rede waarom niks van enige onthulling kom nie, is omdat van vertragingstegniek gebruik gemaak word. Teen die tyd wat ʼn onthulling ondersoek word, het daar soveel ander dinge gebeur dat die saak van nou verdwerg. So ons gaan nooit wen nie. Dit is net ʼn pypdroom.

SARIE VAN HEERDEN ·

Niks word gedoen aan ongerymde vermoedens ten opsigte van Zuma nie en volgens mediaberigte kraai die Guptas koning in ons land. Wil ook lyk asof hul net hul vingers klap en die regering en amptenare spring. Is hierdie land nie dalk stil-stil oorgeneem en nou beheer deur Guptas nie? Duidelik is Zuma net ‘n giggellende pop wat spring as daar vir hom beveel word om te spring. Wat beteken die woord: coup? As die woord vir my vreemd is kan ek tog sekerlik nie in die tjoekie opgesluit word of dat ek vir derduisende rande gedagvaar word nie. Verduidelik maar net die woord aan my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.