Gupta-hoofamptenaar willig in om te getuig

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die hoofamptenaar van die Gupta-maatskappy Oakbay Investments, Ashu Chawla, sal binne die volgende twee maande getuig voor die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake se ondersoek na staatskaping.

Die aankondiging is vandag in die portefeuljekomitee gedoen deur die ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee, Patrick Chauke.

Chawla, wat tans besoek aflê by sy siek ma in Indië, het aangedring daarop dat die Suid-Afrikaanse parlement betaal vir ʼn besigheidsklasvliegkaartjie uit Nieu-Delhi en ‘n Hindi-vertaler, maar die parlement het geweier. Chawla is ʼn Suid-Afrikaanse burger en die parlement het hom beveel om aan die begin van Desember voor die portefeuljekomitee te verskyn.

Die res van die getuienis vanoggend en vanmiddag was urelange harmansdrup, met die politici wat probeer het om reguit antwoorde uit amptenare van die departement van binnelandse sake te wring. Dit was veral ‘n moeilike taak in die geval van Major Kobese, die departement se direkteur: buitelandse kantore, koördinering en ondersteuningsdienste.

Kobese word deur die burgerregte-organisasie OUTA daarvan beskuldig dat hy Chawla bygestaan het om vinniger visums te kry vir Gupta-geaffilieerde mense, en dat hy amptenare wat dit nie wou doen nie, wederregtelik rondgeskuif het om die Guptas ter wille te wees.

Kobese ontken die bewerings, maar het vandag erg klei getrap wanneer die politici hom oor besonderhede van sy optrede uitgevra het. Sy antwoorde oor sy optrede was deurgaans baie omslagtig en onduidelik, in so ‘n mate dat Chauke hom verskeie kere gevra het om reguit te antwoord. Sy getuienis oor sy optrede om Ronald Steyn, ‘n amptenaar wat die Guptas nie ter wille was nie en ook vandag voor die komitee verskyn het, het soveel onenigheid veroorsaak dat hy en Steyn mekaar wedersyds daarvan beskuldig het dat hulle vir die parlement lieg.

Chauke het moedeloos geraak oor Kobese se getuienis dat hy hom vermaan het om nie weg te hardloop van sy dade nie, en nie te maak of hy nou skielik soet en skoon is nie. “Koppe gaan hier rol. Korrupsie, bedrog en wanbestuur het plaasgevind,” het Chauke gesê.

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, se getuienis voor die komitee is met groot afwagting ingewag, hoewel die stadige verloop van sake dit vertraag het en dit nie heeltemal seker was wanneer dit sou plaasvind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.