Gupta-klopjag: Owerhede lê beslag op meer as R250 miljoen

Die klopjag by die Guptas se Saxonwold-woning (Foto: Matthews Baolyi/ANA)

Johannesburgse polisiebeamptes het Maandag in ʼn klopjag op die omstrede Gupta-familie se landgoed in Saxonwold in dié stad beslag gelê op bates van meer as R250 miljoen.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê dié klopjag  nadat die batebeslagleggingseenheid (AFU) vroeër ʼn inkortingsbevel in die hooggeregshof in Bloemfontein van altesaam R250 202 652 bekom het. Dié bevel is toegestaan vir “die bates van verskeie individue en entiteite van diegene wat betrokke was by die beweerde diefstal, bedrog en geldwassery in die omstrede Vrede-suiwelprojek”.

“Die bevel is die gevolg van volgehoue strafregtelike ondersoeke deur die [direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek, beter bekend as die] Valke wat gelei het tot die inhegtenisneming en strafregtelike vervolging van die betrokke entiteite en individue,” het Mfaku gesê.

Mfaku sê hoewel die bevel nou bloot net voorsiening maak vir die beslaglegging van verskeie bates, sal die AFU met die afhandeling van die saak en by skuldigbevinding aansoek doen om ʼn inbeslagnemingsbevel vir die verhaling van die R250 202 652 wat met die omstrede Vrede-suiwelprojek verdwyn het.

Beamptes het onder meer beslag gelê op residensiële en sakepersele, plase, twee vliegtuie, ʼn helikopter en voertuie, asook bankrekeninge wat aan die maatskappye Oakbay Investments (Pty) Ltd, Islandsite Investments 180, Confidents Concept (Pty) Ltd, Sahara Computer (Pty) Ltd, Westdawn Investments en Aerohaven Trading behoort.

Mfaku sê dié klopjag is deel van daadwerklike optrede om korrupsie – met ʼn spesifieke fokus op korrupsie in die privaat sektor – uit te roei.

Op 15 Februarie het altesaam agt verdagtes, wat in hegtenis geneem is ná afloop van dié klopjagte, in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

“Wettige geld is vermeng met geld wat uit misdaadopbrengste verkry is,” het Thato Ntimutse, vir die batebeslagleggingseenheid, gesê. Hy het bygevoeg dat onregmatige geld ter waarde van miljoene rande in ʼn rekening van die Bank of Baroda inbetaal is om dit te vermeng met “skoon” geld en onwettige transaksies te verdoesel.

Die klopjag by die Guptas se Saxonwold-woning (Foto: Matthews Baolyi/ANA)

Michael Hellens, vir die Gupta-ondernemings, het betoog dat die staat nuwe bewysstukke voorhou en dat dit nie deel uitmaak van die dokumente wat by die hof ingedien is nie.

Hellens tree op namens Aerohaven Trading (Pty) Ltd, Oakbay Investments (Pty) Ltd, Westdawn Investments (Pty) Ltd, Annex Distribution (Pty) Ltd en Islandsite Investments One Eighty (Pty) Ltd.

Adv. Luc Spiller, vir die Bank of Baroda, het gesê die staat weerspreek sigself deur bloot aan te neem die geld was die opbrengs van misdade sonder bewyse.

“Die staat maak absurde bewerings. Daardie geld is onttrek en dis weg. So, hoekom die rekening jare later bevries? Jy kan nie die bevel regverdig nie, dit moet ter syde gestel word,” het Spiller gesê.

Regter Fouche Jordan het in Gupta se guns beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Jy hoor net van beslagleggings maar waar gaan alles heen. Gee die gelde vir Eskom dan hoef die man op straat nie die verhoging van elektrisiteit te betaal nie

John ·

Na soveel jaar. Teen die’ tyd is alles wat waardevol is reeds verwyder. Kyk selfs die plante in die beddings weg en blom reeds in Dubai se tuine. ‘n Paar miljoen maak nie op vir biljoene nie. Kyk die stewige mure en hek… klaar 20 miljoen, maar nie herwinbaar nie. Dis ‘n groot spel deur die regering om almal te kalmeer… net ‘n show….

Amelia ·

Sjoe, ek wens ek kan dai heining en hekke by my huis kry. Dan sal ek as alleenmens baie beter slaap in die nag.

marous ·

En die amptenare wat die plundering deurgevoer het ? Waarom is hulle nie al in die tronk nie?

christa ·

al die gelde word stil gehou vir ruk, dan as hulle dink almal het daarvan vergeet gaan dit na die staat. Wonder wanneer word daar op Zuma se goeed beslag gele. Hy wil net op die man op straat teer. Dalk het sy doodskleed ook sake in

jaco ·

Vat die huis ook: die Gupta-huis sal sommer ‘n goeie plek wees om met onteiening sonder vergoeding te begin.

Johan. H. ·

Marous stem saam,,, Daardie lot wat die korrupsie laat plaasvind het,, Hulle moet die oranje snyerspak dra. En ja die paar randjies wat julle terugkry ,klink baie maar waar is die res,,, En in wie se sakke gaan hierdie geldjies tot ruste kom??

Joshua ·

R250 miljoen? Lol ,dis kleingeld vir die Gupta’s en hul trawante.

Chelle ·

Wat sou die rede wees hoekom een van die Polisie-beamptes by die hek
van die betrokke Gupta-woning (sien bo-aan die berig),sy gesig bedek met iets wat lyk soos ‘n Groot koevert?

Oom Kalahari ·

@Danien, stem saam jou stelling.
Die beamptes skuil of draai almal weg en is seker Gupta’s se bruin koevertjie beamptes. Hoop nie hierdie herwinnings gelde gaan weer vir die ANC se stem veldtog vir 2019 nie asook groot Museum en Standbeeld vir Mama Winnie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.