Gupta-neef, sewe ander in hof

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Agt mense het Donderdag vlugtig in die landdroshof in Bloemfontein in die Vrystaat verskyn nadat hulle gister in hegtenis geneem is toe die Valke klopjagte op die Guptas se huis in Saxonwold en ander persele uitgevoer het.

Die verdagtes het in ʼn volgepakte hof verskyn, waarna die saak tot 17 Augustus uitgestel is vir verdere ondersoek.

Peter Thabethe, oudhoof van die Vrystaatse departement van landbou, Seipate Sylvia Dlamini, personeelhoof in die minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane se kantoor, en Takisi Masiteng, distriksdienstebestuurder van die departement van landbou, is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Ashu Chawla, uitvoerende hoof van Sahara, Nazeem Howa, voormalige uitvoerende hoof van Oakbay Investments, Varun Gupta, neef van die Gupta-broers en voormalige uitvoerende hoof van Oakbay, en Ronica Ragavan, waarnemende uitvoerende hoof van Oakbay, is op borgtog van R200 000 elk vrygelaat. Kamal Vasram kon nie onmiddellik vir borgtog aansoek doen nie, aangesien sy adres nog nie bevestig is nie.

Die verdagtes staan onder meer tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en oortreding van die Maatskappywet. Die verdagtes het reeds hul paspoorte ingehandig.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê nog inhegtenisnemings sal binnekort gemaak word. Hy het gesê die polisie is op soek na Ajay Gupta nadat hy versuim het om homself aan die polisie oor te gee soos wat met sy regsverteenwoordigers ooreengekom is. Hy word nou as ʼn voortvlugtige beskou.

Intussen word daar berig dat Atul Gupta glo die land probeer verlaat het, maar dat ʼn vlieënier geweier het om sy private vliegtuig te vlieg. Daar word glo ook gesoek na oudpres. Jacob Zuma se seun Duduzane. Die polisie wou egter nie die berigte bevestig nie.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het intussen bekend gemaak daar is ʼn totaal van 13 verdagtes. Volgens hom is agt reeds in hegtenis geneem terwyl twee ander nog gesoek word en drie ander glo in die buiteland is. Mbalula het gesê die twee verdagtes wat nog plaaslik gesoek word se name sal binnekort bekend gemaak word.

Die aanklagte hou verband met die Vrede-suiwelprojek wat deur Estina, ʼn maatskappy wat met die Gupta-familie verbind word, bedryf is.

Maroela Media het vroeër berig daar is glo ook op dokumente beslag gelê tydens die klopjag. Die klopjag by Saxonwold hou verband met die Gupta-familie se verbondenheid aan die Vrede-suiwelprojek, asook die voortslepende staatskapingsondersoek.

Die Valke het verlede maand op die Bloemfontein-kantoor van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, toegeslaan in verband met die omstrede Vrede-suiwelplaas. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook ʼn bewaringsbevel bekom teen die Estina-suiwelprojekplaas wat Gupta-bande het.

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal. Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

In Januarie is destydse adjunkpres. Cyril Ramaphosa deur die DA versoek om te verseker dat die land se grense op ʼn hoë gereedheidgrondslag geplaas word nadat die Valke glo lasbriewe verkry het om minstens een van die Gupta-broers in hegtenis te neem.

City Press het destyds berig die Valke het op aanklaers van die NVG gewag om die lasbriewe te teken sodat die inhegtenisnemings gedoen kan word.

City Press het ook berig daar is beweer die NVG se batebeslagleggingseenheid sou toe nóg bewaringsbevele bedien aan maatskappye wat met die beweerde staatskaping, waarby die Gupta-familie geïmpliseer word, verbind kan word. Volgens City Press is die bewaringsbevele vir bates ter waarde van ongeveer R1,6 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Janneman ·

Geen van hierdie oortredings kon plaasvind sonder die goedkeuring van Zwane en Magushule nie. Hoekom sou hulle dit hoegenaamd goedkeur tensy hul regstreeks voordeel daaruit kon trek?

Die Guptas gaan sing soos kanaries en hulle almal saam aftrek.

Sin City ·

Lees êrens dat Sun City so R30 miljoen betaal is uit die geld. Gaan hulle dit terug betaal?

Schalk ·

Eish. listen carefully negehonderd sewe en tagtig en honderduisend miljoen hehehe Zumpie kadumpie het afgeval van die muur. En die koning se soldate gaan hom nie weer optel. Kry maar vir julle !!!

C ·

Die valke weet al klaar waat Ajay hom bevind. Hy het landuit gevulg. Sien berig hieronder:
“OR Tambo International Airport spokesperson Leigh Gunkel-Keuler has told EWN that their records show that Gupta left the airport on a Dubai-bound Emirates flight 10 days ago. But Gunkel-Keuler says that airport officials will meet with Hawks investigators to hand over video footage showing Gupta’s departure and also verify his flight details”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.