Gupta-ondersoek: LP’s hoor oor vertroulike staatsinligting

‘n Skermskoot van Gideon Christians wat voor LP’s getuig. (Verskaf deur ANA)

LP’s wat die ondersoek behartig na die vroeë naturalisasie wat aan die omstrede Gupta-familie toegestaan is, sal na verwagting wetstoepassingsagentskappe se hulp inroep om hulle te help om inligting te verifieer dat geheime staatsinligting glo deur ʼn beampte van binnelandse sake met ʼn Gupta-vennoot gedeel is.

Dié inligting het in ʼn e-pos aan die lig gekom wat deel is van die sogenaamde “Gupta-leaks”. Volgens die e-pos het Gideon Christians, ʼn beampte van binnelandse sake, sensitiewe inligting oor hoëvlak- Suid-Afrikaanse staatsbeamptes wat in verskeie lande ontplooi is, insluitend hul adresse, hul kinders se onderrigtoelae en hul salarisse, met Ashu Chawla gedeel.

Chawla is die voormalige hoofbedryfsbeampte van Sahara Computers en ʼn Gupta-vennoot wat die hooftussenganger was tussen die Gupta-broers en beamptes van binnelandse sake.

Christians, wat in 2015 weer na Nieu-Delhi oorgeplaas is nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het na afloop van sy vorige ontplooiing daar, het “aanvaar” dat hy vir Chawla interne inligting kon stuur  rakende besware by binnelandse sake dat hy weer na Indië gestuur word.

Hy kon egter nie onthou dat hy ʼn spreitabel met inligting oor ander beamptes wat by ander kantore in 63 lande ontplooi is, gestuur het nie.

“Ek onthou dit nie. Eerlikwaar, ek onthou nie,” het Christians gesê.

Op hierdie punt het Hlomane Chauke, voorsitter van die ondersoek, gesê: “Dit kom neer op verraad om sulke inligting in private hande te plaas.”

Chauke het Christians se e-posadres bevestig en gesê dit stem ooreen met die adres in die gelekte e-posse.

“Dit is ʼn saak waar ons as parlement miskien die nodige wetstoepassingsagentskappe gaan nodig hê om te kom ondersoek instel na hierdie kwessie. Wie ook al hierdie inligting het, dit is hoogs vertroulike inligting wat nie eens hierdie LP’s het nie,” het Chauke gesê.

Chauke het gesê die komitee sal met die Speaker se kantoor kommunikeer om te help om ʼn dagvaarding aan Chawla uit te reik om voor die komitee te verskyn. Chawla het vroeër by monde van sy prokureur gesê hy is tot November in Indië.

“Vandag het ons verneem daar is hierdie inligting wat hoë-sekuriteit-inligting is en wat in Chawla se besit is, en daarom moet ons ʼn dagvaarding uitreik om Chawla as ʼn saak van dringendheid terug in die land te kry…”

Christians het aan LP’s erken dat hy Chawla goed ken en dat hulle ʼn vriendskaplike verhouding met mekaar het.

“Ek sal sê ons het ʼn verhouding. Ons is vriende. Mnr. Chawla kom nou nie na my huis toe saam met my familie en vriende om te braai nie,” het hy gesê.

Christians het erken hy het sy CV aan Sahara Computers gestuur nadat hy in 2015 na Suid-Afrika teruggekeer het en voor hy weer na Nieu-Delhi gestuur is. Hy het gesê hy het dit gedoen omdat hy gefrustreerd was met sy werk by ʼn vlugtelingkantoor in Kaapstad en sê hy het sy CV ook vir ander maatskappye gestuur, insluitend die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Hy het ook erken hy is in 2013 na die luukse Gupta-troue genooi, maar sê hy het nie die geleentheid bygewoon nie. Behalwe vir dié uitnodiging, het hy geen ander geskenke van die Guptas af ontvang nie, sê Christians.

Hy kon ook nie onthou dat hy ʼn e-pos van Chawla ontvang het met ʼn katalogus van Mini Cooper-voertuie waaruit hy kon kies nie.

“Oor die e-pos wat aan my gestuur is, ek het geen idee nie. Ek het nooit daarop geantwoord nie,” het hy gesê.

“Ek het nog nooit ʼn Mini Cooper besit nie. Ek het nog nooit ʼn Mini Cooper gekoop nie, niemand het al ooit vir my ʼn Mini Cooper gekoop nie; ek is in elk geval te lank daarvoor.”

LP’s sal na verwagting volgende vir Mkuseli Apleni, voormalige direkteur-generaal van binnelandse sake, pols waarna Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, aan die beurt sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MH ·

“Ek onthou dit nie. Eerlikwaar, ek onthou dit nie.” Wat ‘n selektiewe geheue!

zoom zoom ·

Dit raak net al lekkerder met alles wat nou opduik met die Guptas en Kie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.