Gupta-sage: Twee soek antwoorde

Foto: www.planespotters.net

Foto: www.planespotters.net

Regsverteenwoordigers vir lt.kols. Christine Anderson en Stefan van Zyl gaan die hooggeregshof nader indien die weermag nie ʼn besluit neem oor hul vervolging weens die Gupta-sage nie, het Beeld Woensdag berig.

Volgens ʼn prokureursbrief wat aan die weermag gestuur is, en glo deur Beeld gesien is, sloer die saak al vir 18 maande. Die weermag het in Oktober verlede jaar gesê hul regsverteenwoordigers sal binnekort oor die direkteur van militêre vervolging se besluit ingelig word.

Anderson en Van Zyl word daarvan beskuldig dat hulle ʼn aandeel gehad het in die voorval waar ʼn gehuurde vliegtuig vol gaste van die Gupta-familie sonder behoorlike magtiging op die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

Daar is egter nog geen aanduiding gegee of Anderson en Van Zyl vervolg gaan word nie. “Die vertraging is onredelik en beïnvloed ons kliënte se regte ingevolge die grondwetlike bepalings (dat almal geregtig is op ʼn spoedige verhoor),” lui die brief.

Anderson en Van Zyl se regsverteenwoordigers eis dat daar binne sewe dae ʼn besluit geneem word en dat die proses binne 30 dae afgehandel sal word.
Anderson het verlede jaar afgetree maar Van Zyl se loopbaan het tot stilstand gekom, het Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie gesê.

Beeld kon nie kommentaar van die weermag kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.