Gupta-sage: Weermag ontken tweede ondersoek

Foto: www.planespotters.net

Foto: www.planespotters.net

Die weermag het mediaberigte ontken dat daar ‘n tweede ondersoek is na die Gupta-landing by die Waterkloof-lugmagbasis.

“Dit is nie waar nie,” het brig.genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, gesê. “Ek weet niks daarvan nie.”

Die Sowetan haal Mabanga aan waar hy glo gesê het ‘n bykomende ondersoek is aan die gang en dat die ander ondersoek hangende is. Mabanga het egter ontken dat hy met die Sowetan gepraat het. Volgens die berig het hy gesê: “Die aanklagte teen een van die beskuldigdes is teruggetrek weens onvoldoende bewyse.”

“’n Aansoek om aanklagte teen ‘n bykomende beskuldigde te oorweeg is aan die direkteur van militêre vervolging gestuur vir oorweging. Die besluit is hangende,” het Mabanga volgens die Sowetan gesê.

Beeld berig intussen dat daar gesoek word na meer inligting oor die gehuurde vliegtuig vol gaste van die Gupta-familie wat sonder behoorlike magtiging op die Waterkloof-lugmagbasis geland het. Volgens die berig is daar nie genoeg bewyse voor die militêre hof nie.

Die direkteur van militêre vervolging het glo gevra vir aanvullende beëdigde verklarings en inligting vanaf die lugmag ten einde die saak teen die enigste twee oorblywende beskuldigdes, luitenant-kolonels Christine Anderson en Stefan van Zyl, te versterk.

Die vorige ondersoek teen hulle en ao. Thabo Ntshisi is glo afgehandel en na militêre vervolgers verwys vir ‘n besluit oor of hulle vervolg gaan word sowel as ‘n verhoordatum. Beeld het berig dat Ntshisi ‘n staatsgetuie geword het om die saak te versterk nadat daar slegs die “afgewaterde” klag van oortreding van ‘n lugmagopdrag oor private vliegtuie oorgebly het.

Die twee sou aanvanklik van korrupsie, sameswering en bedrog aangekla word. Jean Griessel, hulle regsverteenwoordiger, sê hy is nog nie ingelig oor die nuutste verwikkelinge nie. Hulle is al vir agt maande met verpligte verlof.

Die regering se ondersoek na die Gupta-sage het president Jacob Zuma en sy ministers vrygespreek van enige oortreding en bevind die landing was as gevolg van “samespanning deur beamptes.” In Oktober het kol. Nomsa Khumalo, Van Zyl, Anderson en Ntshisi in die militêre hof by die Thaba Tshwane-basis in Pretoria verskyn. Hulle is aangekla maar daar is nie ‘n verhoordatum vasgestel nie.

Dit was nie onmiddellik duidelik wat die uitkoms van die saak teen Khumalo was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.