Gupta-sakekennisse by die Estina-saak gevoeg

Kamal Vasram en Saliesh Indurjeeth is Maandagaand in hegtenis geneem (Foto: Verskaf)

Twee sakekennisse van die Gupta-broers het Dinsdag vlugtig in die streekhof in Pretoria verskyn in verband met die omstrede Estina-suiwelprojek.

Kamal Vasram en Saliesh Indurjeeth – wat voormalige direkteure van die suiwelprojek was – is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat nadat hulle Maandagaand in hegtenis geneem is.

Hulle staan saam met onder meer Dinesh Patel, die swaer van Iqbal Sharma, ’n hoëprofiel-sakeman en vennoot van die Gupta-broers, en drie amptenare van die departement van landbou in die Vrystaat tereg op aanklagte van bedrog van miljoene rand.

Klagtes teen die verdagtes hou verband met ʼn studie wat die Vrystaatse departement van landbou gedoen het om te bepaal of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is.

Volgens Siphithi Sibeko, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), volg Vasram en Indurjeeth se inhegtenisneming op ʼn ondersoek deur die Inkomstediens en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat (OD) na die sake van die Estina‑suiwelprojek.

“Die ondersoek het vasgestel dat Estina uitklaringsdokumente ingedien het ter stawing van ’n BTW-terugbetalingeis. Die uitklaringsdokumente is toe onder die spreekwoordelike vergrootglas geplaas, waarna vasgestel is dat die verklaarde waarde van meer as R37,7 miljoen vir ’n sogenaamde “nuwe” pasteuriseringsaanleg, buitensporig hoog was,” bevestig Sibeko.

“Die peperduur pasteuriseringsaanleg, wat na bewering uit Indië ingevoer is, is deur Gateway Limited in die Verenigde Arabiese Emirate aan Estina gefaktureer. Bewyse wat reeds in die openbare domein is, dui daarop dat Gateway deur die Guptas gebruik en beheer is as ’n kanaal om geld te was en geld uit Suid-Afrika te onttrek.”

Die saak is tot 11 Februarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jacques ·

R10 000? Vir die makkers is dit kleingeld. Sodra die wêreld vir die kêrels warm word is hulle op die oop pad

Pieter ·

Die anc land is een groot sirkus en die reg bank is nog erger.

Nie Verbaas ·

Los Guptas julle lekker hier om onder die wa gegooi te word. Hoop hulle het die twee se paspoorte ook gevat.

Kokerboom ·

Skurke soos die moet tot verpligte harde arbeid gevonnis word..in die geval sonder vergoeding op projek wat hul so beroof het

Dirk Mostert ·

Wat van die groot visse, Magashule en Zwane? Watter amptenare het goedgekeur en geteken?

Shakespeare ·

Die regstelsel in Suid Afrika is gekaap tot in sy fondamente. VROT !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.