Gupta se beeldpoetser appelleer

bell-pottinger-01

Foto: @our_DA/Twitter.com

Die Britse skakelwerkagentskap, Bell Pottinger, se appèl teen die bevinding dat die maatskappy rassespanning in Suid-Afrika aangewakker het, word Maandag in Londen aangehoor.

Dit volg nadat die agentskap se uitvoerende hoof James Henderson die afgelope naweek bedank het. Sy bedanking is glo ʼn direkte gevolg van die Britse Skakel-en-Kommunikasievereniging (PRCA) se bevindinge dat die agentskap die Britse bedryf se gedragskode oortree en oneties opgetree het in werk wat vir die omstrede Gupta-familie gedoen is.

Henderson het glo aan die BBC erken dat Bell Pottinger naïef was in die manier waarop die maatskappy die saak hanteer het.

PRCA het op 24 Augustus teen die agentskap beslis nadat die Demokratiese Alliansie (DA) die vereniging genader het met getuienis teen Bell Pottinger. Die DA het bewyse aan die vereniging voorgelê wat toon die firma het ʼn veldtog gevoer wat rassespanning gesaai het in ʼn poging om die aandag van bewerings van die Guptas se betrokkenheid by staatskaping af te lei.

“Die DA dink nie Henderson se bedanking is ʼn heldhaftige daad nie. Indien hy werklik die implikasies van sy maatskappy se propagandaveldtog in Suid-Afrika verstaan het, sou hy die sowat R20 miljoen wat hy van die Guptas en pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma, verdien het, terugbetaal het.

“Die maatskappy sou ook die aard van sy kontrak met Zuma en die Guptas bekendgemaak het soos wat die DA geëis het,” het Phumzile van Damme, die DA se nasionale woordvoerder, gesê.

Van Damme het verder gesê Henderson is geboekstaaf waar hy onderneem het om ʼn verslag van die ouditeursfirma Herbert Smith Freehills LLP3 oor Bell Pottinger se werk vir die Guptas aan die einde van Augustus bekend te maak.

“Die einde van Augustus het gekom en gegaan, maar geen verslag is beskikbaar gestel nie, in plaas daarvan ontvang ons ʼn bedanking. Ons vermoed dit is ʼn skuif om die DA tevrede te stel, maar ons is nog nie tevrede nie.

“Die DA vertrou dat die sterkste sanksies wat enigsins moontlik is teen Bell Pottinger ingestel sal word om ʼn boodskap vir die skakelwerkbedryf uit te stuur dat hierdie soort gedrag nie geduld sal word nie,” het Van Damme gesê.

ʼn Beslissing op Bell Pottinger se appèl word Dinsdag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fires ·

Waar is Afriforum? Kan hulle nie die ouens aanvat in die hof nie? Ek dink hulle moet ten minste Bell Potinger se deure toe maak. Dagvaar hulle in die internasionale hof vir alles wat hulle het! Die skade wat hul aangerig het is onherstelbaar en die wittes word as hierdie monsters uit gebeeld wat hulle nie is nie.

Eish ·

In der waarheid spesialiseer die mense daarin om die slegte, goed te laat lyk. Die leuen na n waarheid te resepteer. Hul nie nie-nakoming van die indiening van beloofde verslag, is na hul aard.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.