Gupta-suiwelplaas is vervalle, sê DA

Vrede-suiwelplaas (Foto veskaf)

Die melkprosesseringsaanleg by die Gupta-suiwelplaas bly oorbodig en is in ʼn toestand van verval, het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê.

Die wetgewer se gesamentlike komitee, wat openbare rekeninge en landboukomitees insluit, het vandeesweek die projek besoek, op versoek van die DA, om kwessies rondom die Vrede-suiwelplaas te ondersoek, het Roy Jankielsohn, DA-LP en leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, in ʼn verklaring gesê.

“Die besoek het die getuienis bevestig van Peter Thabete, die voormalige hoof van die departement van landbou en landelike ontwikkeling, in Oktober 2019 by die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek. Die kommissie het gehoor die R106 miljoen wat aan toerusting spandeer is, is ondoeltreffend. Ná die vervalle toerusting van Indië ontvang is, bly dit ouderwets en het klaarblyklik verder agteruit gegaan,” het hy gesê.

Roy Jankielsohn, DA-LP en leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer by die Vrede-suiwelplaas (Foto veskaf)

Die Vrystaatse ontwikkelingskorporasie, wat die projek bestuur het ná die aanvanklike maatskappy Estina onttrek het, het die wetgewer vroeër in kennis gestel dat die prosesseringsaanleg ʼn groot belegging benodig indien dit moet herleef. Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het aangedui ʼn bykomende R30 miljoen word benodig om die aanleg aan die gang te kry.

“Dis duidelik dat die mense van die Vrystaat van R106 miljoen beroof is onder leiding van voormalige premier Ace Magashule, wie se familielede nabye verbintenisse het met die Guptas. Dit wil voorkom of die huidige provinsiale regering ook ten doel het om nog geld van belastingbetalers in ʼn enkele aanleg te belê in ʼn poging om die aanvanklike verkwisting te regverdig en hul politieke hoof in Luthuli-huis te beskerm,” het Jankielsohn bygevoeg.

“Die provinsiale regering moet eerder belê in noodsaaklike dienste en seker maak dat persone, wat nie by die projek ingesluit is nie, bygestaan word. Die huidige premier moet ondersoekbeamptes ook bystaan met inligting wat politieke aanspreeklikheid van haar voorgangers sal verseker, in plaas daarvan om ʼn dooie koei te laat herleef wat ʼn slagoffer van die korrupsievirus was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Die suiwel plaas is vervalle, plus al die ander projekte wat die kabaal hulle hande op gesit het. ALLES.

Strandloper ·

Halllloooooo DA dit is ou nuus…..doen iets daar omtrent…natuurlik net as jul wil….

Jan Nel ·

Ten minste lyk dit nie of die plek enige las op die kragnetwerk is nie.

Boertjie ·

As die soustrein nie genoeg oplewer nie, is daar altyd die melktrein…

Leon ·

Verkoop die plaas aan ‘n gekwalifiseerde wit boer sodat die plaas weer kan werk.

Jakes ·

Dit is glad nie n verrassing nie. Wat het die DA anders verwag? Nogal vreemd dat die toerusting nog nie alles verkoop is vir skroot nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.