Gupta-vennoot, drie ander in hof oor suiwelprojek

Mbana Thabethe, Limakatso Moorosi, Seipati Dhlamini en Iqbal Sharma in die hof. (Foto: Verskaf)

’n Hoëprofiel-sakeman en vennoot van die berugte Gupta-broers, Iqbal Sharma, het Donderdagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die omstrede Estina-suiwelprojek. Hy het saam met drie voormalige amptenare van die departement van landbou in die Vrystaat in die beskuldigdebank gestaan.

Sharma en die drie amptenare is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem.

Die amptenare wat saam met Sharma in die hof verskyn het, was Mbana Peter Thabethe en Limakatso Moorosi, voormalige departementshoofde, en Seipati Silvia Dhlamini, voormalige finansiële hoof van landbou in die Vrystaat.

Al vier staan tereg op aanklagte van bedrog, terwyl ʼn bykomende klag van geldwassery Sharma ook in die gesig staar. Die drie amptenare word ook van die oortreding van die Wet op Openbare  Finansiële Bestuur aangekla.

Volgens die klagstaat is sowat R25 miljoen tussen 1 November 2011 en 28 February 2012 deur die departement aan die maatskappy Nulane Investments 204 betaal om ʼn studie te doen om te bepaal of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is. Sharma is ʼn direkteur van Nulane en dié maatskappy is ook die vyfde beskuldigde in die saak.

Nulane het aan ʼn maatskappy, Deloitte Consulting (Edms.) Bpk., wat die studie teen ʼn bedrag van R1,5 miljoen gedoen het, uitgekontrakteer.

Daar is altesaam 17 beskuldigdes wat in die saak aangekla word, onder wie vier Gupta-familielede wat tans in die buiteland sit. Dit sluit in Atul Gupta, Rajesh Kumar Gupta, Chetali Gupta en Arti Gupta. eNCA berig die proses het begin om hulle uit te lewer.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, sê Sharma en Thabethe sal na verwagting Maandag weer in die hof verskyn wanneer hulle formeel om borgtog sal aansoek doen. Die ander twee beskuldigdes se borgtogaansoeke sal Donderdagmiddag om 14:00 voortgaan.

Volgens Seboka is hierdie saak slegs een aspek van vervalsing, uitgifte, bedrog, korrupsie en geldwassery ten bedrae van R250 miljoen wat agter die Estina-suiwelprojek skuil. Sy sê nog inhegtenisneming in dié verband sal eersdaags volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris dupreez ·

Dit sal n groot dag vir Suid Afrika wees, as hulle die Guptas uitgelewer kry, en n gatslag vir Zuma

Strandloper ·

Glo nie so iets sal ooit gebeur nie…almal kop en een mis…net nog n vermosing van geld

Hendrik ·

Joe dit is darem verskriklik hoe die staatsamptenare so die korrupsie slaggate val. Die klomp is sekerlik geldmal.

Lian ·

As ek reg onthou , het die huidig OB in hasr verslag aangedui dat nie oor die Estima projek vervolg behoort te word nie . Laat ons hoop die sinde van verandering duur voort en waai AL die kieme weg .

Dirk Mostert ·

Wanneer skors hulle haar. Ek het ook korrupsie om aan te meld, maar wag vir haar opvolger.

C-Monster ·

Sjoe, R7 miljoen per persoon vir 3 maande se niksdoen nadat Deloitte betaal is . . .
Lekker man . . . , lekker

Dirk Mostert ·

Wat van die hoof-indoenas, Ace en ex-minister Zwane?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.