Gupta-vriend Brian Molefe kry swaar by Zondo-kommissie

Brian Molefe (Foto: ANA)

Die voormalige hoof van Eskom en Transnet tydens die staatskapingsperiode, Brian Molefe, het Maandag bloed gesweet en ‘n paar keer sy humeur verloor tydens kruisondervraging voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Dit was ‘n uitmergelende dag want die hele dag is opgeneem deur kruisondervraging van twee getuies – eers ‘n anonieme getuie slegs bekend as Getuie Nommer Drie, wat ‘n motorbestuurder was vir oudminister Malusi Gigaba tydens die era van staatskaping, en toe was Molefe aan die beurt.

Die motorbestuurder, wie se Engels nie uitstekend is nie en duidelik min ervaring van regsprosesse het sodat hy by tye onseker voorgekom het, het onder kruisondervraging grootliks konsekwent met die inhoud van sy beëdigde verklaring en sy aanvanklike mondelinge getuienis voor die kommissie getuig, maar tog op ‘n paar potensieel belangwekkende punte afgewyk.

Die getuie was baie seker oor die besonderhede van die kere dat hy Gigaba na die Gupta-tuiste in Saxonwold, Johannesburg, geneem het. Dat dit nie ooreenkom met Gigaba se dagboek of logboek nie, is volgens die getuie nie verrassend nie. Volgens hom het Gigaba spesifiek opdrag gegee dat dit verswyg word in die logboek en die dagboek.

Maar die getuie het hom op twee belangrike en verwante kwessies weerspreek vergeleke met sy vorige weergawes van gebeure. Eerstens het hy Maandag getuig dat hy nooit gesien het dat Gigaba met geld uit die Gupta-woning kom nie. Vroeër het hy getuig hy het dit wel gesien.

Tweedens het hy tevore getuig Gigaba het met ‘n volgepropte toksak (waarin die beweerde geld dan sou wees) uit die Gupta-woning gekom. Hierdie keer het hy getuig dit was ‘n tas met wieletjies.

Op grond hiervan het Gigaba se regsverteenwoordiger, adv. Richard Solomon, SC. probeer om die motorbestuurder as getuie te diskrediteer. Hiervan wou adv. Paul Pretorius, SC, namens die kommissie, en adv. Sibusiso Dube, namens die motorbestuurder, egter niks weet nie.

Dube het uitgewys dat die getuie ‘n enorme risiko neem om te getuig, en niks te baat het daarby om inligting te versin nie. Die getuie het besluit om voort te gaan met sy getuienis al was daar die afgelope naweek ‘n aanslag op die lewe van een van die getuie se kollegas nadat hy ook voor die kommissie getuig het.

Die kollega, slegs bekend as Getuie Nommer Een, was die naweek aan die Oos-Rand op reis in sy motor toe verskeie skote op hom geskiet is. Die skote het hom nie getref nie.

En toe was dit Molefe se beurt. Die kruisondervraging is behartig deur adv. Anton Myburgh, SC, en hy was meedoënloos, sodat Molefe by tye sy humeur verloor het.

Die getuienis het ook verhelderende insig gebied op Molefe se ietwat bisarre konsep van wat eerbaarheid beteken, met Zondo en Myburgh wat hul skok oor sy antwoorde in hierdie verband betuig het.

Oor die stelling in die Gupta-koerant The New Age dat Molefe beslis die volgende Transnet-hoof sal word (wat presies so gebeur het), en die beweerde stelling van die senior Gupta-meeloper Salim Essa enkele jare later dat Molefe Eskom-hoof sou word (wat presies so gebeur het), het Molefe gesê dit traak hom nie.

Die konteks van die Essa-aanhaling (luidens vorige getuienis voor die kommissie) was dat Essa dit sou gebruik het om ʼn senior Eskom-amptenaar te probeer kry om wederregtelik kontrakte aan Gupta-maatskappye toe te staan, want, so wou Essa luidens die getuienis oordra, die Guptas is so invloedryk dat hulle sommer besluit wie word Eskom-hoof.

Zondo het vir Molefe gevra of hy ooit navraag gedoen het oor die beweerde Gupta-invloed op sy aanstelling as hoof van twee organisasies wat aan die vrot kern van staatskaping was, en waaruit die Guptas massiewe bedrae geld gemaak het – op hoogs bedenklike wyse.

Molefe het getuig hy het nie navraag gedoen nie, want hy het nog nooit vir Essa ontmoet nie so dit traak hom nie wat Essa sê nie.

Molefe het toe aan die hand van ‘n analogie verduidelik hoekom hy nie navraag gedoen het nie en hoekom dit hom nie pla nie.

Die analogie loop so: “Daar is baie afsprake van mense wat my wil sien, en ek het gehoor van ‘n ou wat vir mense sê as hulle hom R20 000 gee, kan hy met my ʼn afspraak kry. Die ou was al ‘n paar keer by my. As daar meriete in die voorgestelde ontmoeting is, stem ek in daartoe, anders stem ek nie in daartoe nie. Ek het later gehoor van die R20 000, maar dit pla my nie want ek ontvang dit nie en my bereidheid, of nie, om tot die aangevraagde vergadering in te stem, hang nie daarvan af nie.”

Zondo was verstom dat Molefe niks doen om korrupsie (met die R20 000) wat in sy naam gepleeg word, hok te slaan en by die polisie aan te meld nie, maar Molefe het voet by stuk gehou.

Molefe het in besonderhede vertel hoe hy dosyne kere by die Guptas gekuier het, en hulle ‘n paar keer by hom aan huis. Maar toe Myburgh hom vra waaroor hulle gesels het, het Molefe beweer hy kan niks onthou behalwe dat hulle soms oor die bankwese gesels het nie.

Op ‘n vraag van Myburgh hoe dit moontlik kan wees dat Molefe onbewus kon wees van die miljarde rand se Gupta-verwante korrupsie by Transnet en Eskom onder Molefe se bewind, het Molefe volgehou hy was inderdaad onbewus.

Toe Myburgh aan hom stel dat hy slegs kan beweer hy was onbewus as hy weens algehele onbekwaamheid basies vas aan die slaap was, of as die skelms vir hom te uitgeslape was, of as hy medepligtig was, of as hy die kommissie mislei, was die gort gaar want Molefe het beweer Myburgh sien neer op hom.

Maar van antwoorde gee op Myburgh se moeilike vrae, was daar in die middagsessie by die seepgladde Molefe weinig teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Blikkies ·

Snaaks hoekom loop die perd nog vry. Hy hoort al lankal agter tralies gewees het. Dit is nou al jare wat sy onbevoegdheid, korrupsie en diefstal alom bekend is en steeds loop hy vry en tog gebeur nog niks……

Objektief ·

Shamila Batohi het met groot fanfare vir Shuan Abrahams vervang en in 2 jaar is nog net 2 ANC lede aangekla, maar dis nie te se hulle gaan skuldig bevind word nie

Darkwing Duck ·

Warm plaat laat hierdie ou katte lekker rondspring.

Hennie J ·

Wat meer kan jy se? So glad soos n paling in n bak s…; So skelm soos die houtjie van die galg; Hy, Ace en stortkop sal uitstekende selmaats wees.

Heinrich ·

Net so, korrupsie is mos net ‘n westerse konsep, lyk my nou eerbaarheid ook.

koos10 ·

Hoor niks, sien niks en sê niks. Klink dit bekend?

Ace, Zuma en Molefe

anko ·

Ai tog kan die wat ontvang het, dit dan nie maar net erken nie. Sluit toe, verkoop hul “grand” bates en betaal fondse terug dan hoef al hierdie klompe ekstra belastings nie ingestel te word nie.

Mariana ·

Hou tog net die boks tissues naby. Hy kan dalk weer in trane uitbars.

Anton ·

Ag siestog, weet julle nie dis Jan van Riebeeck se skuld nie. Voor hy met sy skippie hier opgedaag het, was Eskom klopdisselboom:-)

Dup ·

As jy ʼn kader is dan sal jy nooit ooit agter tralies beland nie.Eerder bevordering kry soos met Molefe gebeur het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.