Guptagate: DA vra Valke moet Hlongwane ondersoek

Valke

Argieffoto

Die DA het Sondag gesê dat die Valke die rol van sakeman Fana Hlongwane – wat regstreeks deel was van die omstrede wapenskandaal – in die beweerde Guptagate-saak moet ondersoek.

David Maynier, DA-woordvoerder, het gesê hy sal genl.maj. ZL Mnonopi, die afdelingshoof van die Valke, versoek om Hlongwane se rol in die aanklagte teen Atul Gupta, Ajay Gupta en Duduzane Zuma te ondersoek.

Die Sunday Times het Sondag in ʼn artikel beweer Hlongwane het glo die vergadering bemiddel waar lede van die Gupta-familie na bewering vir Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, die pos as minister van finansies aangebied het kort voor Nhlanhla Nene in Desember verlede jaar in die pad gesteek is. Maynier het gesê indien Hlongwane inderdaad die bemiddelaar van die beweerde vergadering was, behoort hy die Valke in hul ondersoek te kan help.

Die ondersoek hou verband met aanklagte van korrupsie wat die DA op 17 Maart teen Atul en Ajay Gupta en Duduzane Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, aanhangig gemaak het.

Jonas het nie bevestig óf ontken dat Hlongwane die bemiddelaar was nie. Maynier het gesê as dit egter uitkom dat Hlongwane inderdaad by die vergadering betrokke was, sal Jonas moet verduidelik hoekom hy homself verbind met “so ʼn omstrede persoon wat reg in die middel van die wapenskandaal was”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

K@bous ·

Maroela, julle het beslis ‘n fout gemaak, want dit is genl.-maj. en nie maj.-genl. nie.

Landi Slatter ·

Dagsê K@bous

Dankie vir die navraag. Die berig is gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.