Guptagate: ‘Valke moet Zuma ook ondersoek’

Valke

Argieffoto

Die VF Plus het Woensdag die Valke versoek om die verhouding tussen president Jacob Zuma en die Gupta-familie te ondersoek.

“Die bewerings van Themba Maseko, voormalige direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), oor Zuma en die Guptas, is die eerste konkrete bewys van ʼn korrupte verhouding tussen die twee partye,” het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gesê.

Volgens Mulder het Maseko Sondag gesê Zuma het hom in 2010 kort voor die bekendstelling van die Guptas se koerant, The New Age, gebel om seker te maak hy gaan met die Gupta-broers vergader.

“Tydens dié vergadering het die Guptas hom glo gevra om regeringsadvertensies na dié koerant te kanaliseer. Hy het glo geweier en is ʼn jaar later ontslaan. Dié berig het Sondag in die Sunday Times verskyn.”

Mulder het gesê die VF Plus het die Valke versoek om die ondersoek te laat saamloop met die ondersoek wat dié eenheid reeds begin het teen twee van die Gupta-broers,  Ajay en Atul, asook Zuma se seun, Duduzane.

“Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, beskuldig die Guptas nou van ʼn ‘staatskaping’ en hy vra inligting daaroor. Hierdie saak kan egter nie deur die ANC alleen ondersoek word nie, omdat mense in die ANC oënskynlik betrokke is. Daarom is die Valke-ondersoek so belangrik om deursigtigheid te bewerkstellig,” het Mulder bygevoeg.

Dié versoek volg nadat verskeie partye, waaronder die DA en VF Plus, die Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, genader het om Zuma se verhouding met die Guptas te ondersoek. Haar kantoor het bevestig die OB gaan die tesourie vir geld vra om die ondersoek van stapel te stuur, aangesien die OB se begroting gesny is.

Die regerende party het intussen Dinsdag sy eie ondersoek oor die kwessie van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adam Boshoff ·

Hoe deursigtig kan die Valke ook nou eintlik wees as Zuma ook ondersoek moet word Persoonlik dink ek Zuma het hulle almal in sy mag

Jan Du Toit ·

Dis omtrent iets soos n seun moet sy Pa aankla vir die sakgeld wat hy verdoen het van hom.

Michael ·

Logies klink dit nie reg ….die valke gaan Zuma ondersoek en ‘n onpartydige professionele ondersoek doen hierdie is die Guptas se regterhand waarvan ons praat

My opinie ·

Mag die groot blik wurms oopgemaak en uitgegooi word sodat die waarheid uitkom en regstappe geneem word.

Jef ·

Laat hulle maar doen wat hulle wil doen ons wag maar af wat gebeur.

Wat nou? ·

Daar gaan niks kom van die ANC se eie ondersoek nie. Hulle moet die OB die geld gee al beteken dit ook dat ons bydaes moet maak. Ek sal graag wil bydra as ons van Zuma en die Guptas ontslae kan raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.