#GuptaLeaks: Dit is wat jy moet weet

Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA- en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Sunday Times en City Press het einde Mei ʼn berig gepubliseer met bewyse dat die omstrede Gupta-familie Suid-Afrika beheer, nadat hulle toegang gekry het tot 650 e-posse wat tussen die Gupta-broers en hul medewerkers gestuur is.

Op 1 Junie vanjaar het die Daily Maverick se nuwe ondersoekende joernalistieke eenheid, Scorpio, en die onafhanklike nie-winsgewende sentrum vir ondersoekende joernalistiek, amaBhungane, die een na die ander berigte oor vergrype en staatskaping gepubliseer nadat hulle honderde gigagrepe se inligting uit sowat 200 000 unieke e-posse en ander dokumente bekom het.

Die bewyse vir die berigte staan deesdae as die #GuptaLeaks bekend en het Suid-Afrikaners tot in hul wese geskok.

Bruce Whitfield van The Money Show op 702 Talk Radio het verlede week met Susan Comrie, ʼn joernalis van amaBhungane gesels. Whitfield het haar gevra om vir Suid-Afrikaners die grootste onthullings oor die #GuptaLeaks saam te vat:

vega gupta

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: @ReneDelCarme op Twitter

Estina, KPMG en die troue se uitgawes

Estina, ʼn onbekende maatskappy, het ʼn stuk grond gratis van die Vrystaatse provinsiale regering bekom om ʼn melkery te begin met die bedoeling om plaaslike inwoners te bemagtig. Befondsing van R114 miljoen is ook aan die maatskappy beloof sonder dat die nodige tenderprosesse gevolg is. Dit blyk nou dat Estina uiteindelik R210 miljoen van die provinsiale regering ontvang het.

Die Guptas het hul betrokkenheid by Estina tot dusver ontken, maar ná die onthulling uit die #GuptaLeaks-e-posse weet Suid-Afrikaners daar is verskeie leuens verkondig. Die groot vraag is egter: Wat het met die geld gebeur wat aan Estina vir bemagtiging geskenk is?

Die joernaliste van amaBhungane het bevind dat R84 miljoen na Dubai oorgedra is. Slegs R1,7 miljoen is gebruik om toerusting vir suiwelproduksie aan te koop. Die res van die geld is deur verskeie maatskappy gewas, wat met die Guptas verbind kan word, voordat dit weer na Suid-Afrika teruggekom het.

R30 miljoen is na Linkway teruggestuur om vir die Guptas se troue te betaal.

Vega Gupta, ʼn susterskind van die Guptas, het in 2013 met Aakash Jahajgarhia by Sun City in Noordwes getrou. Die troue was ʼn vierdaagse affêre van ʼn oordadige skaal wat nog nie voorheen in Suid-Afrika gesien is nie.

Mediaberigte dat die troue se gaste die Waterkloof-lugmagbasis as hul persoonlike lughawe vir die geleentheid gebruik het, het die land woedend gehad.

Van die uitgawes wat vir die troue aangegaan is, sluit onder meer R2,3 miljoen vir serpe in en R250 000 wat vir vuurwerke betaal is.

Intussen het siek, honger koeie op die Estina-melkplaas in die Vrystaat op ʼn streep gevrek en is hul karkasse in ʼn sloot gestort.

Linkway het die troue se uitgawes as ʼn besigheidskoste geëis en so is belasting van sowat R8 miljoen glo ontduik.

ʼn Junior ouditeur van die ouditeursfirma KPMG het die eis tydens ʼn oudit  bevraagteken, maar sy kommer is bloot geïgnoreer. Dit terwyl die destydse uitvoerende hoof van KPMG, Moses Kgosana, e-posse aan die Guptas gestuur het waarin hy hulle bedank dat hy die troue kon bywoon en dit as die “gebeurtenis van die millennium” beskryf het.

Nadat sy korrespondensie en betrokkenheid by die Gupta-familie aan die lig gekom het, het Kgosana besluit om nie ʼn pos by Alexander Forbes te aanvaar nie. Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het ook besluit om hulle eie ondersoek na KPMG se 2014-oudit van Linkway in te stel.

Argieffoto: GCIS

McKinsey en Trillian

McKinsey, ’n internasionale konsultasiemaatskappy, het 30% van ʼn kontrak van Eskom wat ongeveer R1 miljard beloop aan Trillian Management Consulting uitgekontrakteer. Trillian is nog ʼn maatskappy wat met die Gupta-familie verbind word.

McKinsey het hul vennootskap met Trillian as ʼn “ongewenste stuk bagasie” beskryf wat “net daar is vir die 30%” en “in ruil is vir nie veel werk nie”.

Eskom en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het voorheen ontken dat enige oorbetalings aan Trillian gemaak is. Tog toon die fakture dat minstens R266 miljoen aan die konsultasiemaatskappy oorbetaal is en dit sluit nóg ʼn faktuur van R153 miljoen uit waarvan amaBhungane bewus is.

McKinsey het sy Suid-Afrikaanse direkteur, Vikas Sagar, gekors en is tans besig om die bewerings te ondersoek.

Die parlement wil nou ook by Brown weet hoekom daar oor die uitbetalings aan Trillian gejok is.

SAP en Sahara

Volgens die Guptas se e-posse blyk dit dat die ITK-groep SAP sowat R100 miljoen betaal het aan ʼn klein maatskappy, wat 3D-drukkers verkoop en op die buitewyke van die Gupta-ryk is.

Daar was ʼn ooreenkoms rondom verkopekommissie wat op die nippertjie gemaak is met CAD House wat bepaal het dat hulle 10% kommissie op die kontrak van R100 miljoen sou kry as dit direkte aanleiding sou gee dat SAP ʼn kontrak met Transnet sou bekom.

SAP beweer dat hulle CAD House se dienste bekom het omdat hulle Transnet as ʼn onderneming buitengewoon goed geken het. Transnet sê egter hulle het nog nooit sake met CAD House gedoen nie.

Voorts het SAP ook gesê hulle het verkies om sake met CAD House te doen omdat hulle 3D-modelle van hul sagteware-oplossings kan vervaardig. Die vraag is egter of R10 miljoen ʼn regverdige uitbetaling is vir plastiekmodelle.

Die kontrakte beloop R10 miljoen, maar amaBhungane weet dat ʼn bedrag van R100 miljoen by die transaksie betrokke was.

SAP sê as daar nog kommissie uitbetaal is, was dit omdat daar nog ander kliënte betrokke is.

Joernaliste van amaBhungane glo daar is genoeg bewyse wat toon dat CAD House ʼn front vir die Guptas was, aangesien meer as 90% van die geld gou vanuit CAD se rekening na Sahara en verskeie maatskappye in die Guptas se besit oorbetaal is.

Seksuele teistering van personeel

ʼn Ontleding van die e-posse in die #GuptaLeaks-skandaal toon dat die Gupta-broers hulself glo verskeie kere skuldig gemaak het aan die seksuele teistering van vroulike personeellede en dat hulle boonop kontant betaal het om hul stilte te koop.

Ten minste drie vroulike personeellede van die Guptas beweer dat hulle seksueel geteister, onbehoorlik aangeraak en met tye geïntimideer is deur twee van die Gupta-broers.

Twee van die vroue het gesê hulle is ná die voorvalle afbetaal.

Bell Pottinger

Die Britse skakelmaatskappy het nog altyd erken dat Oakbay Investment hulle kliënt was.

Dit is nou ook duidelik dat hulle nie net vir die Guptas gewerk het nie, maar ook vir die breër Zuma-faksie, wat onder meer die skryf van toesprake vir militêre veterane van uMkhonto weSizwe en die ANC se jeugliga ingesluit het.

Bell Pottinger se veldtog was daarop gemik om die aandag van Zuma en die Guptas se staatskaping weg te lei en dit eerder op ekonomiese bevryding en witmonopoliekapitaal te vestig.

Die maatskappy is ook daarvan beskuldig dat hulle rassespanning onder Suid-Afrikaners aangewakker het.

Bell Pottinger is glo £100 000 per maand vir hul werk betaal.

Die maatskappy moet volgende maand voor ʼn dissiplinêre verhoor van die bedryfsliggaam wat die Britse industrie vir skakelwerk en bemarking reguleer verskyn. Bell Pottinger het self ook ʼn regsfirma gehuur om hul werk te hersien en een van hul vennote is ontslaan terwyl nog drie werknemers geskors is.

Die maatskappy het ook ʼn verskoning uitgereik waarin hulle gesê het dit wat hulle reeds oor die aanklagtes teen hulle werk vir die Guptas gesien het, is “ontstellend” en “onvanpas en aanstootlik”.

Verskeie organisasies, politieke partye en Suid-Afrikaners is egter skepties oor die verskoning en het baie vrae oor die bewerings wat in die verskoning gemaak is.

Bell Pottinger het ʼn wêreldwye reputasie dat dit diktators se eerste keuse as beeldpoetser is. Die maatskappy het al veldtogte vir regimes van Sirië tot Chili gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nigel ·

Van al die goed sal net mooi dadels kom. Geen een van enige van die voorige sake teen Zuma het nog enige vrugte gedra nie. Selfs die ongeluk waarin sy seun twee vroue dood gery het is maklik onder die mat ingevee. Dlamini van SASSA maak en breek net soos sy wil – dit is ‘n totale gemors! Persoonlik het ek alle respek en hoop op die regstelsel verloor, veral wanneer dit kom by Zuma en sy trawante. Van Gerrie Nel en Solidariteit kom daar ook niks – selfs hulle lyk in die die duister te tas.

Eish ·

Die goed is voldoende om enige Afrikaanssprekende se bloeddruk deur die dag te jaag. Hoofsaaklik vanweë die feit dat daar te midde van die bewyse dadels van kom. Ek sal nie so vinnig n uitspraak lewer oor Gerrie Nel en Solidariteit nie. Privaatvervolging impliseer dat jy op jou eie bronne moet staatmaak ten einde jou saak te bewys in n hof. Dit is n helse proses indien jy nie staatsmagte het soos die SAPS nie. Verder sal jy moet kies tussen sake want jy kan nie net inklim en begin vervolg nie. Née wat, ek sal hul nog bietjie kans gee as ek jy is.

he he he ·

Gerrie nel en solidariteit en wie hulle dryf kan al die sondes oopkrap en aan die groot klok hang.maar is eerder basies n tandelose hondjie wat niks kan doen nie.Gerrie Nel sou suid afrika van groter waarde gewees het in die staatsaanklaer se kantoor.

Piet Pompies ·

Enige ongetroude Gupta familie lede, my selfoon nommer is 082 000 0000

Yster ·

As dit ek en my twee broers was wat al die dinge gedoen het was ons al lankal in die tronk. Dit is darem maar lekker in die land.

Mielie ·

Wat my verstand te bowe gaan is dat Zuma NIKS van die Gupta monopoly capital sê nie, nie n woord nie, maar oor WMC so baie te sê. Wonder as dit nou die Ruperts was wat gedoen het wat Guptas doen wat sal nr1 dan gesê het. MAAR die Ruperts is mense van integriteit en sal nooit in sulke transaksies betrokke raak nie. Wonder wat het hulle op Mandela dag gedoen…..hopelik vir 67 minute hulle vingers uit die koffers gehou

humor ·

ET het vroeer talle male op vergaderings gese hierdie mense moet terug na hulle land en kan nie stemreg wil bekom nie. Ons het net een vaderland en kan nerens anders heen gaan nie. en is nie soos hulle bevoorreg om twee te he nie.

Justice ·

Vergeet die provinsiale regering – wie by tesourie het die R210m vir die melkery afgeteken sonder om die plaas begroting en uitgawes te kontroleer? Sekerlik kan die koppe begin waai op daardie vlak.

marlene ·

Sherbet hierdie soustrein ry op meer as net sous.
Absoluut skokkend. Was dit een van ons, was ons lankal vergete in die tronk.?

Dafer ·

Wie is daai advokaat van AfriForum nou weer wat dryg om mense te vervolg – hier is baie – sa vat hulle!

Johannes Meintjes ·

Dis nou nie dat ‘n SA wat al herhaaldelik “in sy wese geskok is” tot enige korregerende of volhoubare herstelaksie kom nie. Inderwaarheid sou ek wou meen dat toenemende afgestompheid ons almal meer apaties of bevrore laat, ter groeiende skade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.