Guptas: Gesprekke met VAE om uitlewering te bespoedig

Michael Masutha, minister van justisie (Foto: Chantall Presence/ANA)

Michael Masutha, die minister van justisie, het Woensdag gesê hy is in gesprek met die ambassadeur van die Verenigde Arabiese Emirate in Suid-Afrika om ooreenkomste oor uitlewering en gesamentlike regsbystand te bespoedig.

Verslaggewers wou Woensdag, voor die begrotingsrede van die kantoor van die hoofregter, by Masutha weet watter stappe hy doen om seker te maak dat Ajay Gupta, een van die broers wat in Suid-Afrika gesoek word op aanklag van korrupsie, binnekort in ʼn hof in Suid-Afrika sal verskyn.

Ajay, die oudste van die drie Gupta-broers wat na bewering miljarde rand van die Suid-Afrikaanse regering bekom het danksy hul vriendskappe met invloedryke politici insluitend voormalige pres. Jacob Zuma, is in Dubai en Indië opgemerk sedert hy in Suid-Afrika as ʼn voortvlugtige verklaar is.

Masutha het gesê die VAE-ambassadeur het gesê daar is ʼn “groot behoefte” by sy regering om seker te maak dat “die nodige stelsels in plek gestel word om dié tipe samewerking tussen ons twee lande te verseker”, weens die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat tans in Dubai woon.

Masutha het egter gesê daar is geen rede om direk in te gryp in die gesprekke tussen wetstoepassingsagentskappe in Suid-Afrika, Dubai en Indië nie, aangesien hy onder die indruk is dat die saak behoorlik hanteer word. “Ek dink nie daar is in hierdie stadium rede tot kommer nie. Dis nie nou nodig dat ek ingryp nie, want ek is oortuig, ten minste in hierdie stadium, dat die betrokke agentskappe die saak hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mrs H ·

Aaahhhh dit is hoekom SA nou skielik so kastig beskermend teenoor die Palistyne is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.