Gupta’s het ‘geen sê’ in beperkingsbevel

’n Vorige klopjag by die Guptas se Saxonwold-woning (Foto: Matthews Baolyi/ANA)

Die hooggeregshof in Bloemfontein het Woensdag beslis dat die direkteure van Islandsite Investments 180 (Pty) Ltd, wat aan lede van die omstrede Gupta-familie behoort, nie by magte is om ’n beperkingsbevel deur die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) teen te staan nie.

Islandsite, wat in sakeredding geplaas is, behoort aan Atul en Rajesh Gupta en hul vroue, Chetali en Arti. Die Guptas word daarvan beskuldig dat hulle ʼn groot rol in staatskaping in Suid-Afrika gespeel het.

Die hof het in Junie vanjaar ’n aansoek deur die NVG toegestaan om dié maatskappy se bates te laat bevries. Dieselfde geld vir Iqbal Sharma, omstrede sakevennoot van die Guptas en voormalige Transnet-raadslid, asook sy maatskappy, Nulane Investments 204 (Pty) Ltd.

Maroela Media het voorheen berig die beperkingsbevel is ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad toegestaan.

Die bevel geld vir alle bates in Suid-Afrika, wat alle eiendom van Islandsite, Sharma en sy vrou, Tarina Patel-Sharma, insluit, asook enige eiendom wat aan Sharma behoort. Dit sluit ook twee eiendomme wat in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) geregistreer is, in.

Eiendom wat aan die Gupta-familie se Islandsite behoort en deel van die inventaris vorm, is ʼn huis van R21 miljoen in Constantia in Kaapstad asook ʼn huis van R12 miljoen in Saxonwold in Johannesburg.

“Die Gupta-direkteure het verlede week gepoog om dié aansoek teen te staan terwyl die maatskappy in sakeredding geplaas is.

“Die hooggeregshof het beslis dat Islandsite se sakereddingspraktisyns in die regsposisie is om die maatskappy te verteenwoordig en nie die direkteure nie,” sê Sindisiwe Seboka, OD-woordvoerder.

Dit beteken dat Kurt Knoop en Johan Kloppers, wat as sakereddingspraktisyns aangestel is, steeds hangende die uitkoms van die aansoek om kondonasie in beheer van die maatskappy se sake en eiendom is.

“Die voorlopige bevel teen Islandsite, Sharma en ander is tot 18 November vanjaar verleng.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Ons liewe maatjies kry weer hoop dat die groot indoena binnekort weer tuis gaan wees en met junior binnekort ‘n aspirant-prez kan hul lekker lewe weer voortgaan in dom Suid-Afrika.

Esme ·

Wanneer kom die ‘vriende’ terug huistoe? Aarde, hulle is net so slu soos die Covid 19 virus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.