‘Guptas het my probeer omkoop’ – voormalige SAL-baas

Vuyisile Kona (Foto: Simphiwe Mbokazi, ANA)

Vuyisile Kona, voormalige hoof‑ uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Dinsdag voor die Zondo-kommissie getuig die Gupta-familie het hom omkoopgeld van R500 000 aangebied. Dit was glo om te verseker dat ʼn maatskappy wat bande met die Gupta-broers het ʼn kontrak kry om konsultasiewerk vir die lugdiens te doen.

Kona het Dinsdag tydens sy getuienis vertel hy is in Oktober 2012 na die Guptas se huis in Saxonwold in Johannesburg genooi om te onderhandel oor die opstel van die konsultasiekontrak. Oudpresident Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma, en Siyabonga Mahlangu, raadgewer van die voormalige minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, was glo ook teenwoordig tydens die vergadering.

Die SAL het toe reeds finansieel gesukkel en het maatskappye uitgenooi om te tender vir die opstel van ʼn sakeplan. ’n Tender van R6 miljoen van Lufthansa Consulting en ’n tender van R40 miljoen van McKinsey & Company was reeds ontvang. “Lufthansa Consulting se tender was ooglopend die beste opsie,” het Kona gesê.

Kona vertel hy was totaal uit die veld geslaan toe Tony Gupta hom R100 000 in kontant aanbied om McKinsey & Company se tender te aanvaar. Hy het die geld van die hand gewys. “Tony Gupta het my eers in die familie verwelkom. Hy het gesê hy weet ek het nog nie my salaris vir September ontvang nie, waar hy daarna R100 000 aangebied het,” vertel Kona.

Toe Kona die aanbod van die hand wys, het Gupta hom R500 000 in kontant aangebied. Kona het toe vir hom gesê dat hy nie die geld nodig het nie. “Ek het ongemaklik gevoel oor die hele saak.”

Nadat Kona Gupta meegedeel het dat hy die kontrak vir Lufthansa gaan gee, is die vergadering skielik verdaag en Kona het die Gupta-huis verlaat.

McKinsey het in 2018 om verskoning gevra vir sy betrokkenheid by die staatskapingskandaal, wat veroorsaak het dat miljarde rande weg van staatsentiteite gekanaliseer is en in die hande van korrupte individue beland het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marius ·

En waarom het die eerbare man nie dadelik die polisie in kennis gestel om die hele spul toe te sluit nie ?

Moedeloos ·

Miskien het hy maar die polisie wat kop in een mus met uncle Tony

Christa ·

Ja Nee hoekom nie dadelik Polisie in Kennis gestel nie nou Sal ons seker weer uit vind van nog klomp gemors Haha en Ou GiGaba regte Ou gemors
Wanneer gaan ons besef Anc Kan die Land nie regeer nie
STEM V. F Plus vir n Beter Suid Afrika

Strandloper ·

Mmmm 2012 al gebeur…..praat nou eers dit maak nie sin!

Magda ·

2012 – 7 jaar later kom jy eers vorendag en dit ook net omdat jy voor die Zondo kommissie moet getuig???

Hond se Baas ·

Na al die jare het jy seker vreeslik skuldig gevoel en toe jy dit nie meer kon uithou nie moes jy dit nou met ons deel?

HOOP ·

By wat was die Guptas nie betrokke nie , alles wat hulle aan geraak het is nou in stukke, plaas dat die regering hulle terug bring en aan die pen laat ry .

Scalla ·

En steeds is daar geen vervolging nie, partye gaan die siek truck trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.