Guptas hof toe oor ‘verdagte transaksies’

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Oakbay Investments, die maatskappy wat aan die omstrede Gupta-familie behoort, het Dinsdag die volledige beëdigde verklaring bekendgemaak wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is om inligting van die finansiële intelligensiesentrum (FIC) te bekom.

Die inligting hou verband met 72 “verdagte transaksies” van meer as R6,8 miljard, wat volgens Pravin Gordhan, die minister van finansies, tussen 2012 en Junie 2016 deur Gupta-maatskappye aangegaan is. In die verklaring sê Oakbay Investments dat hy van voorneme is om op 23 Maart 2017 ʼn aansoek voor die hooggeregshof in te dien om afskrifte van die verslag wat deur Gordhan aan die FIC gestuur is, te bekom.

Volgens die Wet op Finansiële Intelligensie is geen persoon geregtig op inligting wat in besit van die sentrum is nie, tensy ʼn hofbevel so beveel. Oakbay het gesê die maatskappy wil inligting oor die transaksies hê sodat hy die legitimiteit van elke transaksie kan bewys. Die maatskappy het gesê hy het besluit om ter wille van deursigtigheid sy volle hofaansoek oor die saak bekend te stel.

Ander aansoekers sluit ander Gupta-maatskappye in soos onder meer Oakbay Resources and Energy, Shiva Uranium, Tegeta Exploration and Resources, Blackedge Exploration, TNA Media, VR Laser Services en Sahara Computers.

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Ronoca Ragavan, Oakbay Investment se uitvoerende hoof, het Dinsdag gesê die Gupta-familielede en hul besighede word “in ʼn hof van openbare mening vervolg” terwyl daar nooit enige strafregtelike aanklagte teen hulle aanhangig gemaak is nie. “Ek kan bevestig dat daar geen regsuitspraak, hofbevel of bevinding deur enige hof was wat aandui dat die aansoeker of enige lid van die Gupta-familie ʼn misdaad of ander oortreding begaan het nie,” het Ragavan gesê.

“Enige teenstrydige berigte of bewerings is onwaar. Dit is nietemin nie hoe die aansoekers of die Gupta-familie behandel word nie ten spyte van wat die Grondwet voorskryf.”

Vroeër vanjaar het vier van Suid-Afrika se grootste banke hul bande met die Gupta-familie en hul besighede verbreek. Die destydse hoof van Oakbay Investments, Nazeem Howa, het met Gordhan vergader en hom gevra om in te gryp oor die banke se besluit. Howa het gesê die sluiting van Oakbay Investments se bankrekeninge sal katastrofies wees vir die besigheid en sy meer as 7 500 werknemers.

Gordhan het aanvanklik aan Howa gesê hy is nie by magte om in te gryp nie. Gordhan het later in Oktober hofstukke ingedien om uitsluitsel te kry oor sy verpligting as minister om die Guptas by te staan in hul stryd teen die banke. Gordhan het in hierdie aansoek na die 72 “verdagte” transaksies verwys.

Intussen het pres. Jacob Zuma ʼn taakspan saamgestel om die kwessie tussen die banke en die Guptas te ondersoek. Hy het ook verlede week in die parlement gesê die banke se besluit is “verdag”.

Die Gupta-familie, wat noue bande met Zuma en sy familie het, word ook in die openbare beskermer (OB) se staatskapingverslag by bewerings betrek dat die familie ʼn onregmatige invloed oor die aanstelling van kabinetsministers en hoofde van staatsinstansies het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frederik ·

Nammawan self is verdag. En sy een seun is ‘n Gupta vennoot.

Maria Van Dieweeck ·

Hierdie immigrante se houdings verstom steeds. Arrogant verby met vrotrykmens se probleme. Al se n hof waar ookal hul is onskuldig, weet almal wat hul doen. Heeltemal bedorwe met verwronge idees.’ Boohoo ons word soos krims behandel!’ Niemand wonder waarom nie!

PJ ·

Slang in die gras die Fica wet le al vanaf Maart maand by zuma vir ondertekening wou nie teken nie zuma wet nou terug verwys na parlement kwansuis onkonstutisioneel en ewe skielik gaan guptas hof toe juis te doen met die wet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.