Guptas se beeldpoetser moontlik beboet

bell-pottinger-01

Foto: @our_DA/Twitter.com

Die Demokratiese Alliansie (DA) se klag dat die Britse skakelwerkfirma Bell Pottinger die gedragskode van sy bedryf oortree het, is Donderdagmiddag deur die gesagsliggaam wat die Britse bedryf reguleer, bekragtig.

Die Britse Skakel-en-Kommunikasievereniging (PRCA) het bevind Bell Pottinger het oneties opgetree. Die firma kan nou beboet word vir die beeldpoetsveldtog wat dit namens die Guptas in Suid-Afrika bedryf het en sy lidmaatskap aan die vereniging kan opgeskort of beëindig word.

“Ons het bevestiging gekry dat ons klag teen Bell Pottinger bly staan. Die firma het nou vyf dae om teen die PRCA se besluit te appelleer indien hy dit sou verkies,” het Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, gesê.

Van Damme het gesê indien die DA se klag nie deur PRCA se professionele praktykkomitee gehandhaaf is nie, sou hulle dit Donderdagmiddag bekendgemaak het.

In ʼn verklaring op die PRCA se webwerf het hulle die prosedure bevestig. Die stilte van die vereniging se kant beteken die klag word gehandhaaf met dissiplinêre sanksies en die skakelwerkfirma word nou tot vyf werksdae gegun om die besluit te appelleer.

“Indien ʼn appèl aangeteken word, sal die PRCA se direksie die verslag van die professionele praktykkomitee saam met die appèl oorweeg om die besluit te handhaaf, wysig of van die hand te wys. Die PRCA sal dan hul finale besluit aan die begin van die week van 4 September bekendmaak,” het PRCA gesê.

Die vereniging het ook in die verklaring gesê dit sal nie tydens die verloop van die proses kommentaar daarop lewer nie.

Volgens Van Damme wag die DA nou op die vereniging se finale besluit. Die party hoop daar sal streng teen die firma opgetree word, wat glo verantwoordelik is vir die ontwerp van die politieke gonswoord “witmonopolie-kapitaal”.

“Terwyl die skakelfirma vir Oakbay Capital, die Gupta-familie en pres. Jacob Zuma se seun Duduzane Zuma gewerk het, het dit die reeds sensitiewe rasseverhoudinge in Suid-Afrika uitgebuit. Die PRCA moet ʼn sterk boodskap uitstuur dat dié soort onetiese gedrag deur sy lede nie geduld sal word nie.

“Verder herhaal ons die DA se beroep op Bell Pottinger om die regte ding te doen en alle Gupta-kontrakte en geld wat uit hierdie werk verdien is te verklaar en terug in Suid-Afrika te belê,” het Van Damme bygevoeg.

Die DA het Bell Pottinger daarvan beskuldig dat die firma rasseverdeling in Suid-Afrika gesaai het deur valse gerugte oor wit maatskappyhoofde en Pravin Gordhan, die voormalige minister van finansies, te versprei. Dit is glo gedoen in ʼn poging om die fokus weg van die Guptas se beweerde betrokkenheid by staatskaping te verskuif. Die klag is op 18 Augustus in Londen aangehoor.

Die firma het intussen sy vennoot Victoria Geoghegan, wat die Guptas se rekening bestuur het, asook drie ander werknemers afgedank en om verskoning gevra vir die “onvanpaste” mediaveldtog wat dit namens Oakbay bedryf het. Die firma het sy kontrak met die Guptas in April beëindig.

Bell Pottinger het reeds verskeie Suid-Afrikaanse kliënte waaronder Richemont en Investec verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Pompies ·

Beeldpoetser, dat jy iemand betaal om jou goed te laat lyk, ek het grootgeword dat jy geken word aan jou optrede. In die geval was daar niks goeds aan die Gouptas en nou kry hulle iemand om hulle goed te laat lyk. Misbruik die media, wat hulle selfbesit en maak wit mense sleg deur valse berigte te versprei. Die regering self beskik nie oor die kennis om onderskeid te tref tussen reg en verkeerd en val vir alle Goupta propaganda en gebruik dit tot hul eie voordeel.

Verwonderd ·

Nou dat aanspreeklikheid bewys is. Kan ‘n mens hulle nie ook aanspreeklik hou vir die verlies aan lewens en opstande wat agv hulle ligsinnige praatjie veroorsaak is nie? Miskien kan ‘n mens ‘n klasaksie oorweeg? Kan internationale liggame soos die VN en strafhof, nie ook vir remedieë genader word nie? Sodat enige sulke aksie in die toekoms aan die groot klok gehang kan word nie.

Andre ·

Ongelukkig is die skade al reeds gedoen en die oningeligtes sal vashou aan die snert wat hulle kwytgeraak het. Ek glo dat die skade wat hulle gedoen het ‘n kriminele oortreding is en hulle derhalwe vervolg moet word.

Adam ·

Me Van Damme, baie geluk met julle reuse-oorwinning. Verduidelik asb vir my wat se positiewe effek en gevolge dit vir my as ‘n gewone landsburger inhou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.