Guptas se beeldpoetser skuldig bevind aan ‘erge wanpraktyke’

bell-pottinger-01

Foto: @our_DA/Twitter.com

Bell Pottinger, die Guptas se beeldpoetser, is Maandagaand van sy lidmaatskap aan die Britse skakel-en-kommunikasievereniging (PRCA) gestroop nadat dié vereniging die agentskap se veldtog in Suid-Afrika beskryf het as die ergste voorbeeld van wanpraktyk wat hy nog gesien het.

Bell Pottinger is maar net die tweede agentskap in die bestaan van dié reguleerder wat dié swaar straf opgelê is. Die agentskap se lidmaatskap van die Britse vereniging, en die reguleerder se verteenwoordiging in die Midde-Ooste- en Noord-Afrika-streek is onmiddellik opgeskort. Die agentskap sal vir minstens vyf jaar nie vir lidmaatskap kan aansoek doen nie.

Die PRCA het Maandag, nadat Bell Pottinger se appèl nié geslaag het nie, gehou by sy bevinding dat die agentskap se veldtog rassespanning in Suid-Afrika aangevuur het. Die reguleerder het ook gesê die veldtog was oneties en het die Britse bedryf se gedragskode oortree.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het in Julie ʼn formele klag by die reguleerder ingedien waarin hy Bell Pottinger daarvan beskuldig het dat dié bemarkingsmaatskappy doelbewuste rassespanning op die versoek van die Guptas aangewakker het.

Bell Pottinger het aanvanklik teen die PRCA se bevindinge geappelleer en het in sy verdediging aangevoer dat die maatskappy nie kon voorsien dat die veldtog rassespanning sou veroorsaak nie. Die reguleerder het egter eenparig beslis dat dit onwaarskynlik sou wees.

PRCA het in ʼn sterk bewoorde verklaring die senior bestuurslede van Bell Pottinger uitgewys as die persone wat versuim het om die veldtog genoegsaam in ʼn sensitiewe sosiale en politieke omgewing te monitor.

Francis Ingham, direkteur-generaal van PRCA, het verder gesê dit is die grootste voorbeeld van wanpraktyk wat hy in sy tien jaar as hoof van die reguleerder gesien het.

Die uitvoerende hoof van Bell Pottinger, James Henderson, het die afgelope naweek bedank. Sy bedanking is glo ʼn direkte gevolg van PRCA se bevinding.

Intussen is die verslag van die onafhanklike ouditeursfirma Herbert Smith Freehills LLP3 bekendgestel. Bell Pottinger het die firma aangestel om die werk wat die agentskap vir die Guptas se Oakbay-maatskappy gedoen het, te ondersoek.

Volgens die firma het Bell Pottinger gewerk aan ʼn veldtog rondom die bevordering van die idee dat daar steeds ekonomiese apartheid in Suid-Afrika bestaan en die behoefte vir meer ekonomiese emansipasie aan te wakker onder die veldtog getiteld “Ekonomiese emansipasie-veldtog”. Die agentskap het aanvanklik op korporatiewe kommunikasie gefokus, maar het sedert September 2016 toenemend meer tyd aan dié spesifieke veldtog bestee.

Die firma het ook in sy verslag gesê van die veldtog se materiaal was negatief en spesifiek op sekere ryk wit Suid-Afrikaanse individue of maatskappye gemik. Volgens die firma kon dit moontlik rassespanning skep en was dit aanstootlik en teen die bedryf se etiese beginsels. Die firma het verder gesê dat dié veldtog wel die term wit-monopolie kapitaal gebruik het, maar kon nie enige bewyse vind dat Bell Pottinger die term ontwerp het, soos wat aanvanklik aangevoer is nie.

Phumzile van Damme, nasionale woordvoerder van die DA, het die PRCA se optrede teen Bell Pottinger verwelkom maar gesê nog stappe moet gedoen word om te verseker dat die agentskap volle verantwoordelikheid vir sy optrede neem. “Ons eis steeds dat Bell Pottinger alle inligting rondom die werk wat hy vir die Oakbay-rekening gedoen het openbaar maak en al die geld wat hulle uit dié werk verdien weer terug in Suid-Afrika belê,” het Van Damme bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

So nou hoekom loop die Guptas nog rond dit is dan genoeg bewyse dat hulle deel van die onder wereld is.Tronk toe

Chris ·

Ek sien dat Peter Hain ook nou ‘n eiertjie te lê het. Wys nou net, mens kan nie die gatswaaiers vertrou nie. Op ‘n stadium het hy die land verguis, wat wil hy nou doen. Skade herstel wat sy bende aangerig het.

Boetman ·

Hierdie maatskappy moet vernietig word met boetes en die leiers moet lewenslank tronkstraf kry. Met hul invloed wat rassespaning aangevuur het is daar mense vemoor.

Eish ·

Wonderlike nuus en wonderlike sanksiemaatreël wat toegepas word. Baie goed dat dit in die buiteland plaasgevind het. Die wêreld raak nou warm vir die Gupta’s en no1 se vervaldatum is so naby jy kan daaraan vat. Bank van Beroda (dink ek) n Indiese bank wat takke het plaaslik ook n boete van R11m opgelê vir die wyse waarop hul die Gupta’s toegelaat het om geld rond te skuif sonder oorsig en rapportering. Hul eiland van Zumafikasie is besig om te sink vanweë die stygende oseaan van ontblotings.

Adam ·

Duidelik werk dinge anders in die eerste wereld. Korrekte besluit en welgedaan aan die DA. Pragtige voorbeeld van probleme by die korrekte forum laat aanspreek en nie net warm lug blaas nie.

John ·

Volgens persberigte het ‘n Gupta-vliegtuig ‘n dag voor Henderson die pad gevat het, op ‘n lughawe daar naby geland. Daar is bespiegel dat daar moontlik kontak was. Die Gupta’s beskou hulself klaarblyklik as onaantasbaar. Miskien moet die verwaande familie se aktiwiteite in hul eie vaderland bekyk word. Dit behoort interessant te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.