Guptas se burgerskap ‘onregmatig’ toegeken, sê EFF

Malusi Gigaba se brief aan die Gupta-familie (Foto via Julius Malema, leier van die EFF)

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Maandag aangevoer Malusi Gigaba het onwettig burgerskap aan die Gupta-familie toegeken terwyl hy die minister van binnelandse sake was.

Die EFF het twee amptelike briewe vrygestel wat wys dat Gigaba vermoedelik ingemeng het toe die Guptas se burgerskap goedgekeur is, alhoewel hul aansoek verwerp is omdat dit nie aan die vereistes voldoen het nie.

“GG Hlatswayo, namens die direkteur-generaal, was korrek toe hy die Guptas se Suid-Afrikaanse burgerskap verwerp het, omdat hulle nie aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Wet 2010 voldoen het nie,” het die party Maandag gesê. “Die Guptas het nie vyf jaar al fisies in die Republiek van Suid-Afrika gebly nie.”

Hlatswayo se brief is gedateer 22 Januarie 2015. Hy het die familie aangeraai om weer op 23 Desember 2015 aansoek te doen, “op voorwaarde dat hulle nie meer as 90 dae buite Suid-Afrika was vir elke jaar in die vyf jaar voor hul nuwe aansoek nie en dat hulle aan die vereistes moet voldoen soos voorgeskryf in die gewysigde Wet op Burgerskap, Wet 17 van 2010.”

Gigaba het egter ʼn paar maande later, in ʼn brief gedateer 30 Mei 2015, skriftelik aan die Guptas bevestig “vroeë burgerskap” is aan hulle toegeken. “Dit is ʼn plesier om u in kennis te stel dat ek, by magte kragtens artikel 5 (9) (a) van die Wysigingswet op Suid-Afrikaanse Burgerskap 2010 die residensiële vereistes vir burgerskap kwytskeld en ek ken dus vroeë burgerskap toe,” het hy geskryf in die brief aan “Mnr AK Gupta en familie”.

Die EFF het gesê die Guptas kwalifiseer nie vir Suid-Afrikaanse burgerskap nie en sal dit in die hof daag.

“Die EFF sal sy regspan nader om die saak na die hof te neem sodat Gigaba se gunste reggestel kan word en dat die Guptas, net soos gewone uitlanders wat burgerskap soek, onderwerp sal word aan die behoorlike proses. Gigaba se besluit was irrasioneel en gebaseer op niks anders buiten sy korrupte verhouding nie.”

Gigaba is in 2014 aangestel as minister van binnelandse sake. Hy is daarna as die minister van finansies aangestel tydens ʼn middernagtelike kabinetskommeling in Maart waartydens Pravin Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas afgedank is.

Gigaba se naam het aan die lig gekom tydens ʼn reeks e-posse wat impliseer dat hy ʼn noue verhouding met die Gupta-familie het. Hy ontken enige oortreding en bevraagteken die geloofwaardigheid van die uitgelekte e-posse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

humor ·

En nou wat kan ons nou van hom in sy nuwe strategiese pos verwag. Sy aanstelling is deur z met voorbedagde rade in middernagtelike ure gedoen. Alles is maar donker soos die nag.

Scalla ·

Pateties, sal eers die Guptas gaan raadpleeg voor hy nuus konferensie hoi

Magda ·

Altyd vandat hy aangestel is, gewonder waar het hy n vinger in die Pie.

Fred ·

Stem!! Die Guptas kan ook, soos die Zimbabwiërs, gaan tou staan in Marabastad.

gatiep ·

As die rooi gevaarte ook teen die Guptas is ,is ek dan vir die Guptas.

LB S ·

Ek het geweet dit sal net ‘n kwessie van tyd wees voordat Blink Stefaans sy Moses ook teëkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.