Guptas verkoop Tegeta ‘om poste te red’

Duduzane Zuma Foto: africa.widmi.com

Oakbay Investments, ʼn beleggingsmaatskappy wat deur die omstrede Gupta-familie besit word, het Woensdag aangekondig dat die maatskappy sy belange in Tegeta Exploration and Resources vir R2,97 miljard aan die Switserse maatskappy Charles King verkoop het.

Volgens Oakbay Investments is dit gedoen in ʼn poging “om werknemers se poste te red”.

Dié stap kom nadat die voormalige regeringswoordvoerder, Mzwanele Jimmy Manyi, Maandag ʼn ooreenkoms met die Gupta-familie aangegaan het om hul televisienuuskanaal, ANN7, en The New Age-koerant vir R450 miljoen deur verkoperfinansiering te koop.

Tegeta, wat bestaan uit Optimum, Koornfontein en Optimum Coal Terminal, word tans ondersoek nadat Malusi Gigaba, minister van finansies, die nasionale tesourie opdrag gegee het om ʼn forensiese ondersoek te doen na Tegeta se steenkoolkontrak met Eskom.

Die verkoop van Tegeta, wat deur pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane, en die Gupta-familie besit word, is onderhewig aan regulatoriese vereistes en die nakoming van voorwaardes in die ooreenkoms wat na verwagting binne 12 maande afgehandel sal wees.

Ronica Ragavan, Oakbay se uitvoerende hoof, het gesê die verkoop is deel van die maatskappy se strewe om poste te beskerm, sekerheid aan die meer as 7 500 werknemers in die groep te bied en die waarde van die onderneming te beskerm. Ragavan het gesê die koop sal ook die Guptas toelaat om hul naam te herstel na aanleiding van die toenemende bewerings van staatskaping.

“Tegeta is ʼn sterk onderneming en die Charles King-maatskappy sal ʼn uitstekende eienaar wees. Ons wens albei sterkte toe vir die toekoms,” het Ragavan gesê.

Amin Al Zarooni, eienaar van Charles King, het gesê Suid-Afrikaanse mynbougeleenthede is ʼn “baie aantreklike” proposisie en sy maatskappy was al lank op soek na ʼn geleentheid om in die land te belê. “Sodra ons die onderneming gekoop het, sal ons natuurlik soek na ʼn swart ekonomiese bemagtigingsvennoot,” het Al Zarooni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Om die een of ander rede is Oakbay se verkoopsmotivering van Tegeta, wat homself beroep op die edele motief van behoud van poste, meer soos n pot sout wat op jou Sondag poeding omgeval het. Ek is van mening dat die ondersoek niks goed voorspel vir die maatskappy nie en dat met no1 se vervaldatum in sig, hul skep wat te skeppe is vir die reis na Dubai. Tegeta – lees Togetha

Chris duPreez ·

Het die Guptas iemand gekry om hulle geld onwettig uit die land uit te vat? , nou verkoop hulle alles voor hulle dit verloor, of is die verkope n geld wassery storie?

Frederik ·

Charles King gaan ‘n swart bemagtigingsvennoot soek. Is Zuma se laaitie nie swart genoeg nie, of wat is die probleem?? Die probleem lyk asof die laaitie bloot ingestaan het vir sy pa by Oakbay. Die eintlike aandeelhouer is No 1.

Deon ·

Ka ching, ka ching, ka ching……dis soos n nimmereindige dobbelmasjien wat net uitbetaal, en word hul ryker, ryker en ryker

Pieter ·

Wat het geword van geld wat vir die herstel van die mynbou bedrywighede geoormerk was (R 1.3 biljoen) wat hulle onwettiglik gebruik het vir die koop van die myn. Dit is geld wat in n Trust rekening gehou was?

Ander Annie ·

Dit ruik rot. Ons sal wel agter die kap van die byl kom.

Ander Annie ·

Blykbaar het dieselfde maatskappy by ‘n vorige geleentheid ook “gefront” vir die Guptas. Die eend gaan aanhou om goue eiers te lê. EN die Kat kom weer. 9 lewens 9.

popeye ·

Ag, hoe edel en traan -pik hartroerende gebaar. Tegeta werknemers, julle werk vir kriminele. Salarisse is met korrupte geld betaal. Ek hoop regtigwaar die Switsers kan die trots in julle menwees terugsit….maar hoe moes julle weet nê? ….sterkte vorentoe.

Melt Olckers ·

Maak net seker die transaksie word binne Suid Afrika geskik, en nie in Switzerland nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.