Guptas verloor aansoek om bankfasiliteite te red

bank-of-baroda

Bank of Baroda. Foto: Marketing91.com

Die Gupta-beheerde Oakbay-maatskappygroep se dringende aansoek om die Bank van Baroda (BOB) te keer om al sy rekeninge en leningsgeriewe aan die einde van September te sluit, het gefaal.

Regter Hans Fabricius het die 20 maatskappye se dringende aansoek teen die Indiese bank met koste van die hand gewys. Hy het die beslissing Donderdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof gemaak.

Die Gupta-maatskappye het gepoog om ʼn interdik te bekom om die bank te keer om op 30 September sy dienste aan hulle te staak omdat die maatskappye se aansoek om ʼn “tussentydse interdik” eers op 7 Desember in die hof aangehoor kan word.

Volgens eNCA was die hofaansoek ʼn laaste desperate poging van die maatskappy om te verseker dat hy steeds kan sake doen nadat vier van Suid-Afrika se grootste banke – Absa, Nedbank, Standard Bank en FNB, reeds hulle Gupta-verwante rekeninge gesluit het ná gerugte van die familie se betrokkenheid by staatskaping aan die lig gekom het.

Fabricius het gesê die integriteit van die land se gevestigde finansiële stelsels en die oppergesag van die reg weeg swaar in die guns van BOB in die saak. Hy het ook op ʼn tegniese regsaspek gesê die maatskappye se versoek kom op ʼn “tussentydse tussentydse interdik” neer, iets wat nie in die Suid-Afrikaanse reg erken word nie.

Die bank het in sy hofstukke daarop gewys dat die maatskappy ʼn groot aantal verdagte transaksies aangegaan het. BOB het reeds 36 van die verdagte transaksies by die Finansiële Intelligensiesentrum aangemeld.

BOB het aangevoer hy wil sy verbintenis met die Gupta-familie en die maatskappy beëindig omdat hulle negatiewe reputasie ernstige kommersiële en regsrisiko’s vir die bank inhou.

Die Indiese finansiële instelling sal nou voortgaan met die sluiting van alle Gupta-maatskappyrekeninge teen die einde van hierdie maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Almal opereer binne die wet met die staatskapers buiten die vervolgingsgesag. Nasionale tragedie.

MM ·

MOOI MAN – nou moet nog net hulle onregverdige ” SA burgerskap” weg gevat word – en dan BYE BYE Guptas.

Williew ·

So verkrummel die fondament onder die korruptes se voete….as die ineenstorting eers begin het dan word dit nie gekeer nie,dit is soos ‘n kern reaksie wat kritiese massa bereik het…

pbotha ·

Die net span n bietjie stywer! Hoop net Z is ook in die net…gladder as ‘n paling ?

Frik ·

Hoop die grootbase van die banke sal ook rekenskap moet gee oor hoekom solank met die klient sake gedoen was !

KEER HULLE ·

Die staat (altans die ouens wat nie ook “ge-gupta” is nie) moet die rekening vries. Daai geld is gesteel. As die geld eers uit die land is sal niemand dit ooit weer kry nie. In elke geval dink ek daar is Biljoene rande reeds landuit.
Ek verstaan nie hoekom die valke ens beslag lê op bates en geld wat onwettig bekom is maar die Guptas se geld en bates is onaantasbaar?
Nou sê ek die persone wat hulle moet/kan vervolg is seker ook op die payroll. En die arme ouens wat nie op die payroll is nie vrees vir hulle lewens daarom bly hulle maar net stil.

marous ·

Waarom het die SAID nog nie toegeslaan nie? Al hul bates word vervreem en daar is geen gevolge nie. Die spul wat baat gevind het moet ook aan die pen ry , maar daar sal nie genoeg geld wees om oornag 500 tronke te bou nie.

Alida ·

Dit sal hulle leer. Hulle het gedink almal in SA het net st 3. Hier is slim mense Guptas. Pak julle tasse en groot asb kom vra my wie moet saam trek. Ek kan aan baie name dink.

Sê-maar-net ·

Ek lees, verstaan en voel ook soos almal. Geregtigheid moet seëvier.
MAAR het enige al daaraan gedink waarmee die duisende onskuldige werknemers betaal gaan word wat vir hul maatskappye in Suid Afrika werk? My Swaertjie leef elke maand met die grootste bekommernis of hy dié maand salaris gaan kry aldan nie weens al die verwikkellinge. Hy is 12 jaar van aftrede na jare diens op fie myne. So ek sit met gemengde gevoelens rakende hierdie spesifieke aangeleentheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.