Guptas versoek Gordhan om hofaansoek terug te trek

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

In ʼn oënskynlike ommeswaai het die Gupta-familie Woensdag gesê dat hulle Pravin Gordhan, minister van finansies, versoek het om ʼn hofaansoek terug te trek, nadat hulle Dinsdag gesê het die familie is “verheug” oor die aansoek.

In ʼn verklaring namens die Oakbay-groep het Van der Merwe & Associates, die familie se regsverteenwoordigers, gesê hulle het aan Gordhan geskryf en hom versoek om die hofaansoek terug te trek. In die verklaring sê die prokureurs dat die bewerings in Gordhan se verklaring “ongevraagd, kwaadwillig en niks anders as lastig is nie”.

Gordhan het vroeër hofstukke ingedien om uitsluitsel te kry oor sy verpligting as minister om die Guptas by te staan in hul stryd teen die land se banke. Gordhan verwys in sy aansoek na 72 “verdagte” transaksies van meer as R6,8 miljard, wat Gupta-maatskappye tussen 2012 en Junie 2016 aangegaan het.

Die familie het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hulle is “verheug” oor die hofaansoek en het Gordhan bedank vir die geleentheid om die familie se naam in ere te herstel. Volgens Dinsdag se verklaring is Gordhan se hofaansoek deur die familie se regspan bestudeer en sou hulle volledig reageer op elke bewering in die hofstukke.

In Woensdag se verklaring het die Guptas gesê die doel van die versoek aan Gordhan is om die minister “ʼn geleentheid te gee om belastingbetalers se geld te spaar”.

“Om belastingbetalers se geld op so ʼn nalatige en onvanpaste manier te bestee, sal neerkom op ʼn oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, wat verdere optrede teen diegene hiervoor verantwoordelik sal regverdig,” lui die verklaring.

Intussen het Gordhan se regsverteenwoordigers die versoek om die aansoek terug te trek van die hand gewys.

Die Guptas se regsverteenwoordigers het bygevoeg dat hul kliënte wel hul formele weergawe van gebeure voor die hof sal bring “aangesien die minister van finansies gekies het om daardie forum te gebruik”. “Die saak moet dus voortgaan en ons sal graag die nodige doen om die wanvoorstelling in die hofstukke reg te stel.”

Op ʼn vraag van African News Agency (ANA) waarom die familie skielik ʼn ommeswaai in hul reaksie oor die saak gehad het, het Oakbay geantwoord dat daar geen ommeswaai was nie.

“Soos in die verklaring genoem gaan Van der Merwe & Associates se kliënte graag hof toe. Die minister van finansies se optrede met betrekking tot hierdie spesifieke regsproses word deur gewone belastingbetalers gefinansier – en aangesien die inhoud [van die hofstukke] onsin is – wou die Guptas die minister van finansies een laaste kans gee om belastingbetalers geld te spaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anoniem ·

Maroela Media, ek neem aan dis ‘n klein vingerglipsie om te sê Ghordan se verklaring is “ongevraagd, kwaadwillig en niks anders as lastiG nie”. (Ek dink hulle beskuldig hom eerder van lasteR.) Nietemin, ek dink julle (onbedoelde) weergawe is baie nader aan die waarheid!!!

Landi Slatter ·

Dagsê Anoniem

Dankie vir jou terugvoer. Die bronteks is “vexatious” en “lastig, hinderlik” is dus inderdaad die korrekte woord.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Jan Els ·

Pravin, ek gee jou toestemming om my belasting geld te gebruik ten einde hierdie skelms tronk toe te stuur.

Jan ·

Gordhan gaan die Guptas ‘n pit druk. Hy is KLAAR ‘n minister. Haha…

humor ·

Aag en wie gee nou kamma om vir die belastingbetalers se geld? Tog n klug!!!!! Waar op hierdie aarde gaan ons soek vir n kriesel geloofwaardigheid???

Ronnie ·

…”om die belastingbetalers se geld te spaar…” Ja, natuurlik. Ons glo julle.

Gerhardus Windpomp ·

Die van der merwe ou wat die prokereur is moet sy kop laat lees. Maar vir so baie geld sal hy ook seker sy siel verkoop. Sies!!

gert ·

Wat n klomp skelms – almal zuma endie anc se pelle. Soort soek soort. Het mos almal saam troue gehou toe hulle by Waterkloof geland het.Moenie ou diklip wat vorige minister van onderwys was vergeet nie oja pandor. Sy isook een van die maatjies. . Nog n looser.Die hele spul is diep verrot.

Ben Prinsloo ·

Soos die oumense altyd gesê het: nou toe nou, kan jy nou meer!!

Lance ·

Almal sien deur die mense en die vd merwe …is n groot grap !

Mila ·

Huh? Bekommerd oor belastingbetalers se geld? Dis ‘n grap om oor te huil …

John ·

‘n Bekende Guptaiaanse gesegde: ‘Die waarheid sal altyd teen die einde seevier’… en die vlug na die midde-ooste vertrek daarna vanaf die Waterkloof-lughawe. Daar sal nie soos voorheen aangedui by Sun City verversings voorgesit word nie. Onthou die geldtrommel onder die bed!

Tommy ·

Ek wonder of die vdma prokureur ook dink hy het met die massas te doen. Wie wil hy opsweep ment die graad 1 taktiek.

elize ·

Ja wat Gordhan kan maar my belasting geld ook gebruik. Dan is daar minder vir die Guptas oor

Koos1 ·

Kan jy nou meer…. Hierdie is nou ware bewyse dat hulle betrokke is by staatskaping.
Hulle en die regering is op die selfde wyse deurmekaar en die een hand weet nie wat die ander een doen nie!

Scalla ·

Hoe kan hul versoek, daar is n ding soos vra asb om terug te trek, arrogant van hulle en net n bewys van invloed wat hul gehad het

RB ·

…. dankbaar is ek my van is nie Van der Merwe nie…. mag ek nooit so desperaat word dat ek namens ‘n Gupta moet optree nie….. dan vat ek maar my bordjie en gaan staan op die hoek!

KP ·

Hulle wil geld spaar dan is daar meer vir hulle om te steel. VdM jy is n veraaier wat verdien om ook maar te gaan. Ek hoop nie die Guptas vertrek vanaf Waterkloof na die ooste, hulle moet vertrek vanaf Saxonworld na Polsmoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.