Gure weer kan kragvoorsiening kelder

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

City Power verwag ʼn aantal onderbrekings in dienslewering wanneer reën en donderstorms die naweek en volgende week op Gauteng toesak.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) het Vrydag ʼn geel vlak 2-waarskuwing uitgereik oor erge donderstorms wat tot 23:00 vanaand in Limpopo, KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga verwag kan word. Hierdie weer kan oorspoel na volgende week.

Luidens die waarskuwing kan hierdie donderstorms plaaslike vloede en gevaarlike weerligstrale tot gevolg hê, wat veral ʼn uitwerking op laagliggende gebiede kan hê.

“Hierdie weerstoestande kan City Power dalk verhoed om dienste te lewer, soos wat ons tydens donderstorms in Desember ondervind het. Reënweer kan ook meebring dat ons spanne lank vat om te reageer op klagtes van kragonderbrekings, aangesien paaie kan oorstroom of weens omgevalde bome versper word,” het Isaac Mangena, City Power se woordvoerder, Vrydag gesê. Hy wys ook daarop dat dit moeilik kan wees om kragonderbrekings in die reën te herstel, weens die gevaar wat dit inhou.

City Power het verder om verskoning gevra vir langdurige onderbrekings Vrydagoggend, spesifiek in Randburg, Roodepoort, Hursthill en Reuven. “Party van die werk word vertraag deur die reënweer en ons sien ook ʼn toename in klagtes oor kragonderbrekings in die gebied. Teen vanoggend het ons meer as 1 700 klagtes hieroor ontvang, die meeste daarvan uit Randburg en Roodepoort afkomstig.”

Volgens Mangena ervaar City Power boonop steeds kragonderbrekings weens vandalisme en kabeldiefstal wat tydens beurtkrag plaasvind. “Dit veroorsaak dat krag in sommige gevalle nie herstel wanneer beurtkrag opgehef word nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.