Gure weer stuit nié ‘Comrades’ vir liefdadigheid

Bennie Roux. Foto: Verskaf

“Dit was baie rof. Die versoeking was in ʼn stadium groot om dit te los, maar ek is net bly ek het vasgebyt.”

Bennie Roux (42) het Saterdag gietende reën en koue weer trotseer om die afstand van ʼn Comrades-marathon (90 km) in sy tuin by sy huis in Centurion te hardloop.

Hy het aanvanklik beplan om 04:00 weg te spring, maar weens die gure weer het hy eers 06:30 weggespring.

“Dit het soms gesous en dan was dit plek-plek weer oukei. Maar dan raak dit weer koud. Ek is omtrent deur agt droë hemde en vier paar tekkies. Dit is darem die voordeel as jy heeltyd by die huis is.”

Foto: Verskaf

Roux se amptelike hardlooptyd was 10 uur en 29 minute, maar weens die pouses tussenin was dit heelwat langer. Dit was egter steeds onder die amptelike Comrades-afsnytyd van 12 uur.

“Ek het ʼn hele paar dele sonder pouses gehardloop, maar wel elke nou en dan droë klere aangetrek. Hier van 40 km af het ek sowat elke 10 km ʼn pouse gevat.

“Dit was iets om na te werk en dan het ek vinnig iets geëet of gedrink – daarna was ek weer aan die gang.”

Volgens Roux het hy al omtrent R70 000 vir die Con Amore-skool, ’n skool vir gestremde kinders in Kempton Park, ingesamel. “Die ondersteuning is net ongelooflik en ek kry nou nog boodskappe vir skenkings,” het hy Sondagoggend gesê. “Dit is net amazing.”

Die idee om by die huis te begin hardloop, het ontstaan nadat Roux gelees het van die Fransman Elisha Nochomovitz wat ʼn volle marathon van 42,2 km op sy balkon (van 7 m lank) in Toulouse gehardloop het.

Roux het verlede Vrydag op die eerste dag van die afsonderingstydperk sommer reeds weggespring en dié afstand in sy tuin gehardloop. Hierna het die gedagte posgevat om die afstand van die Comrades-marathon te hardloop.

“Ek het hierdie reaksie in my wildste drome nie verwag nie. Alles het Woensdag bymekaargekom en nou is dit reeds gedoen en daar is baie geld ingesamel.”

Bennie Roux. Foto: Verskaf

Volgens Roux het sy vrou, Isabel, en drie seuns, Hugo (13), Ruben (11) en Sion (4), hom deurgaans ondersteun. “My vrou het pannekoek gebak en bordjies aangedra. Sy het my bottels vol water gemaak, droë klere gebring en gesorg dat ek gelukkig is.”

Sy het ook 5 km saam gehardloop. “Die seuns was ʼn bietjie lui weens die reën, en wou nie hol nie.”

En wat beplan Roux hierna? “Ek gaan nou lekker rus tot die lockdown verby is,” lag hy.

Roux het die Comrades al 11 keer vantevore voltooi. Sy beste tyd was onder sewe uur. Hy het ook al drie keer aan die moordende Munga-marathon deelgeneem. Die marathon behels 400 km oor een skof van sowat 80 uur en deelnemers wat die minimum slaap.

Roux het verlede maand aan AfriForum se Hardloop en Fietsry vir Hoop-projek deelgeneem ter ondersteuning van mense wat deur plaasaanvalle geraak word. Hy het ook in Oktober verlede jaar aan die projek deelgeneem en sodoende derduisende rande ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fubar

Baie geluk, Bennie. ‘n Lekker goedvoel storie is nét die ding om ‘n mens positief te maak in hierdie onseker tye.

Kokkie

Goed gedoen, Bennie. Jy is ‘n held in eie reg. Baie dankie vir wat jy vir kinders doen. Ek salueer jou !

Wil ook net sê

Sjoe! Wat ‘n inspirasie! Mooi so Bennie

Kosie

Dit is goed en wel, maar wat as die hele korona storie ‘n klug is? Hoe het almal nie hulle lewens ontwrig oor valse inligting en modelle nie? Die land se ekonomie is besig om te vou oor 9 sterftes in 2 maande. Maak dit enigsins sin?

Gawie

Mooi so Bennie! Jy is ‘n voorbeeld vir wat mens kan doen as jy jou hart daarop sit. Toe dit gister so reën het ek gewonder wat van jou poging sou word, maar ek is bly jy het deurgedruk. Die mense by Con-Amore is geseënd om iemand soos jy te hê wat hulle saak bevoordeel.