Gwede Mantashe ontken hy koop joernaliste om

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, het ontken dat hy joernaliste omgekoop het om inligting oor ʼn beweerde buite-egtelike verhouding uit die media te hou.

Dit kom nadat die DA die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange versoek het om Mantashe te ondersoek oor die bewerings.

Sunday World het Sondag berig Mantashe, ook die ANC-voorsitter, het glo erken dat hy twee joernaliste betaal het om inligting oor ʼn beweerde buite-egtelike verhouding uit die media te hou. Die 64-jarige Mantashe het glo ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn 26-jarige vrou gehad.

Mantashe het glo aan die koerant erken dat hy twee joernaliste R70 000 betaal het om die storie oor sy persoonlike lewe te laat verdwyn. Hy wou egter nie die joernaliste se name bekend maak nie.

Mantashe het intussen op die bewerings gereageer en ontken dat hy by omkopery betrokke was. Hy het verder ontken dat hy enige erkenning aan die Sondagkoerant gemaak het soos wat beweer word.

“Mantashe glo daarin, in sy persoonlike hoedanigheid én as lid van die uitvoerende gesag, om die integriteit van die media en mediavryheid te handhaaf,” het Moferefere Lekorotsoana, personeelhoof van Mantashe se departement, gesê.

Kevin Mileham, DA-LP en woordvoerder oor mineralebronne en energie, het egter gesê die minister het in wese erken dat hy twee joernaliste omgekoop het. “Dit is duidelik ʼn skulderkenning en hy moet verantwoordbaar gehou word.”

Volgens Mileham moet ministers, as lede van die parlement, ʼn hoë standaard handhaaf en etiese leierskap verskaf aan die mense wat hulle dien. “Indien iemand uit ʼn etiese oogpunt gemaklik daarmee is om omkoopgeld te betaal, dan ontstaan die vraag of dieselfde individu dit eties toelaatbaar sal vind om omkoopgeld te aanvaar?”

Dit is onaanvaarbaar dat ʼn kabinetslid omkoopgeld aan die media of joernaliste betaal ongeag die omstandighede, het Mileham gesê. “Suid-Afrikaners verdien ʼn vry en regverdige media wat onbevooroordeelde inhoud verskaf sonder omkoopgeld en korrupsie.”

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het sy skok oor die bewerings uitgespreek. Volgens Sanef is sogenaamde bruinkoevert-joernalistiek, waar joernaliste betaling ontvang vir spesifieke stories, strydig met joernalistieke etiek.

Volgens Sanef sal hy die minister skriftelik versoek om die name van die betrokke joernaliste bekend te maak. “Sanef sal ook Sunday World se ondersoek na die aangeleentheid steun, insluitend die afdanking van die joernaliste indien daar bevind word dat hulle wel omkoopgeld aanvaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Is dit nou wragtig nuus waardig? Almal weet ons waardes is glad nie van toepassing vir kaders nie!

Jerry

Toe maar Gwede, jy is noie die eerste een wie vir daai lekker deng val nie, ook nie die laaste een nie … he he

Hans

Soos met Zuma…. Sy verstand sit in sy broek…. Die bietjie wat hy het

emily

Hans, Jy slaan die spyker op die kop.

Wondermaarnet

Hy is skuldig aan ‘n affair en in die proses het hy 2 joernaliste ook nou in die moeilikheid. Selfgesentreerd en gee nie om oor ander nie.