GWK-werkers vas oor beweerde geldwassery

finansies-geld-geldwassery

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

Vyf mans en ʼn regspersoon sal binnekort in die Kimberley-handelshof in die Noord-Kaap verskyn op aanklag van beweerde geldwassery.

Die Valke se ondersoekspan het Woensdag die verdagtes, almal tussen 32 en 59 jaar oud, gedagvaar om in die hof te verskyn. Die mans sal na verwagting op 22 Julie in die hof verskyn.

Die verdagtes, verbonde aan Griekwaland Wes Koöperatief Beperk (GWK), het glo tussen 2014 en 2016 saam met ʼn werknemer van AG Equipment Direct LLC gewerk om die pryse van gekwoteerde toerusting te verhoog.

Volgens kol. Philani Nkwalase, polisiewoordvoerder, het die Valke se ondersoekspan vasgestel dat die verdagtes na bewering sowat R5 miljoen uit hul werkgewer, GWK, bedrieg het en onder mekaar verdeel het.

Vier verdagtes is reeds in November verlede jaar in hegtenis geneem in verband met dié saak. Hulle het reeds verskeie kere in die Douglas-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn op aanklag van korrupsie en geldwassery.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die ondersoekspan vir die inhegtenisnemings geloof.

“Ons sal aanhou om korrupsie in Suid-Afrika bloot te lê om die skuldiges aan die pen te laat ry,” het Lebeya gesê.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is om dit duidelik te maak dat die verdagtes daarvan beskuldig word dat hulle die pryse van gekwoteerde toerusting glo verhoog het en GWK sodoende uit miljoene bedrieg het. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ja julle is so goed maar nog nie mand is in die tronk nie. Dit is een groot sirkus dit is al wat dit is.

annie ·

Mense moet maar oppas vir daai oranje-kleurstof. Dit word ook vir tronkklere gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.