Gyselaarsdrama: Hy is dalk dood, maar ‘my hart glo anders’

Christo en Amanda Bothma. (Foto: Facebook)

Amanda Bothma wie se man Christo byna twee jaar gelede vermis geraak, sê sy gaan nou begin met die proses om hom dood te laat verklaar.

Bothma, ʼn Potchefstromer, en Kimar Akoliya, seun van die Indiese goudmynbaas Akoliya Patel, is in September 2018 in Burkina Faso as gyselaars geneem. Christo het vir Akoliya se pa as instandhoudingsbestuurder by ʼn myn gewerk.

Maroela Media het vroeër berig twee tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, het in Julie verlede jaar onafhanklik van mekaar aan die noodlenigingsgroep Gift of the Givers bevestig dat Christo reeds op 19 Junie in Mali dood is. Daar was egter geen fisieke bewyse nie.

Gift of the Givers het Amanda probeer help met die proses om haar man, of in die ergste geval sy oorskot, te help opspoor. Sy sê volgens dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van dié organisasie, eis Christo se gevangenemers US$100 000 (sowat R1,7 miljoen) vir hulle om ʼn video te stuur wat bewys dat hy dood is.

Sonder behoorlike DNS-toetse of selfs x-strale van die liggaam, sal egter glad nie met sekerheid gesê kan word die oorskot of graf op só ʼn video is wel dié van Christo nie.

Amanda sê volgens Sooliman is daar geen rede vir die gevangenemers om oor Christo se dood te lieg nie omdat hulle geld verdien uit die gyselaars wat hulle neem.

Amanda sê Sooliman het onderneem om nou die owerhede in Mali te vra om ʼn beëdigde verklaring uit te reik waarin amptelik kennis gegee word dat haar man daar gesterf het. Sy sal dié dokument dan aan die Suid-Afrikaanse owerhede gee sodat ʼn doodsertifikaat vir Christo uitgereik kan word.

“Ek is bang ek aanvaar dit en op ʼn dag gaan ek gaan dalk aan met my lewe en dan kry ek die oproep wat sê hy leef. Hy gaan mos dink ek het hom net so maklik weggegooi,” het sy Dinsdag gesê.

“Almal sê vir my ek moet dit aanvaar, maar dit is makliker gesê as gedoen. Dit is ʼn onmoontlike besluit om te neem. Ek sal dit seker eendag aanvaar, maar nie nou nie.

“Ek gaan dalk ʼn doodsertifikaat hê, maar vir my beteken dit niks nie. Ek sal deurgaan met die proses, maar my hart glo anders.”

Amanda sê sy gaan ná die afsonderingstydperk opgehef word, ʼn gedenkdiens vir Christo hou. “Ek gaan dit doen vir diegene wat van hom wil afskeid neem, maar vir my voel dit nie reg nie. Dit sal meer wees vir ander mense om afskeid te neem.”

Amanda het Christo op 8 Junie 2018 die laaste keer gesien toe hy teruggevlieg het Burkina Faso toe.

“As ons hom net by die huis kan kry sodat hy tussen sy eie mense kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonneblomkind ·

Sterkte vir jou en ek hoop in my hart jy kry “closure”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.