Gyselaarsdrama ontvou op Limpopo-plaas

plaashek-pexels

Foto: Pexels

ʼn Gyselaarsdrama het hom Donderdag in die Ofcolaco-omgewing buite Tzaneen in Limpopo uitgespeel tydens ʼn plaasaanval.

Fanie en Elsa Meyer en hul negejarige kleinseun is op Willem de Beer se plaas oorval. Fanie is tydens die voorval beseer, maar hy en die kleinseun kon uit die huis ontsnap. Marius Jacobs van Watchdog Tzaneen het aan Maroela Media bevestig een van die plaasaanvallers het Elsa in die huis aangehou en verskeie skote is afgevuur tussen hom en die polisie.

Die man het Elsa later vrygelaat en ná ʼn onderhandeling met die polisie het hy ook uit die huis gekom. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.

“Talle voertuie het die huis omsingel,” het Jacobs gesê. “Ons bedank die verskeie boereverenigings, gemeenskapspolisiëringsforum en veiligheidsmaatskappye wat ook op die toneel reageer het.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 32-jarige man is tydens ʼn huisroof in hegtenis geneem op ʼn plaas in Ofcolaco. “Die man en kind kon tydens die huisroof ontsnap en hulle het die polisie ontbied wat vinnig saam met die plaaslike boeregemeenskap reageer het.”

Volgens Ngoepe is daar beslag gelê op een vuurwapen tydens die inhegtenisneming. “Die verdagte sal Dinsdag in die Lenyenye-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

o ·

Dalk is dit die wapen wat gisteroggend in Letsitele gesteel is…..

AL ·

Dankie Vader dat daar nie nog n plaasmoord was nie. Mooi so polisie en almal wat betrokke was!

Gerhard Burger ·

Natuurlik is mens dankbaar dat die misdadigheid so vir die slagoffers afgeloop het. Ek wonder egter net waarom ‘n klagte van Menseroof nie bygevoeg is nie. Miskien sal die speurbevelvoerder of die aanklaer dit raaksien. In Fanie se geval kan daar dalk twyfel wees, maar ten aansien van sy vrou, wat volgens alle aanduidings teen haar wil aangehou was, is daar prima facie gesien ‘n saak uit te make. Wel minstens in so ‘n mate dat so ‘n klagte bygevoeg kan word vir toetsing in die hof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.