Gyselaarsdrama op plaas kom tot einde

plaashek-pexels

Foto: Pexels

Die gyselaarsdrama wat vroeër Sondagmiddag op ʼn plaas naby Mosselbaai in die Wes-Kaap ontvou het, het tot ʼn einde gekom.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 39-jarige man het lede van sy gesin, onder wie sy ouers en broer, gyselaar gehou voordat hy hulle Sondagmiddag ongedeerd vrygelaat het. Die polisie was nog tot laat Sondagmiddag op hoëgereedheidsgrondslag op die plaas aangesien die verdagte steeds binne die huis was en geweier het om hom aan die polisie oor te gee.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die verdagte nou in polisieaanhouding is.

Pojie sê verskeie versoeke van die gyselaaronderhandelaars het op dowe ore geval, waarna die taakspan die man in die huis oorrompel het.

“Ons het besluit om die onderhandelings tot ʼn einde te bring. Die taakspan het die man suksesvol in hegtenis geneem. Daar was geen beserings of ekstra beskadigings nie, afgesien van die voertuie wat vroeër beskadig is,” sê hy.

Volgens Pojie sal die man in polisieaanhouding bly tot wanneer hy in ʼn landdroshof op Mosselbaai gaan verskyn. Hy word onder meer aangekla van die kwaadwillige beskadiging van eiendom en poging tot moord.

Geen motief vir die gyselaarsdrama is nog in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Is die man siek of op iets?
God dank niemand is beseer nie.
Mens vrees booswigte en loop jou Dan in ‘n familielid vas…
Scary.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.