‘Gyselaarsituasie’ toe munisipale werkers op salarisse aandring

Raadslede en amptenare van die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit is amper 12 uur lank as gyselaars in die raadsaal aangehou. Foto: Facebook

Die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit het onderneem om al sy werknemers se agterstallige salarisse teen Donderdag 12:00 te betaal.

Ontevrede lede van die nie-erkende vakbond Mahusa het die munisipaliteit se raadsaal Woensdag 14:00 glo met slotte en kettings toegesluit, met raadslede en senior amptenare daarbinne, terwyl hulle aangedring het dat hul salarisse vir Oktober betaal word.

Die “gyselaarsituasie” het tot 01:00 vanoggend aangehou, toe werknemers die raad se aanbod aanvaar het om hul netto salaris Donderdag te betaal. Raadslede en hooggeplaaste amptenare is daarna toegelaat om die raadsaal op Randfontein aan die verre Wes-Rand te verlaat.

Volgens ʼn senior amptenaar, wat verkies om anoniem te bly, het die distriksmunisipaliteit se werknemers einde September net hul netto salaris ontvang, maar is geen geld vir hul bydraes tot onder meer hul aftreefonds, mediese skema of behuisingsubsidie oorbetaal nie.

Einde Oktober het die munisipaliteit glo net genoeg geld gehad om 144 werknemers op die laagste vlakke se netto salaris te betaal, terwyl amptenare op die hoogste vlakke geen salaris ontvang het nie.

Die amptenaar sê die R77 miljoen wat die munisipaliteit in die mislukte VBS Bank belê het, sou gebruik kon geword het vir tydelike verligting om die salarisse te betaal, maar dié geld was eintlik vir projekte bestem en het niks met die raad se lopende uitgawes te doen nie.

Volgens hom is die eintlike probleem dat brandweer- en gesondheidsdienste jare gelede van plaaslike munisipaliteite aan die distriksmunisipaliteit oorgedra is, maar distriksmunisipaliteite geen bykomende toelae gekry het om amptenare te vergoed wat dié dienste lewer nie.

Die noodfinansiering om agterstallige salarisse te betaal, kom van die munisipaliteit se ontwikkelingsagentskap, maar vir die tweede maand agtereenvolgens sal geen derde partye vir voordele soos werkers se aftreefonds en mediese skema betaal word nie.

Die munisipaliteit het probeer om die finansiële verlies te dek deur elektrisiteit-, riool- en eiendomsbelasting drasties te verhoog, het Ben van den Berg, VF Plus-raadslid, intussen gesê, “maar die skrif was reeds aan die muur”.

Hy meen nog munisipaliteite in Gauteng kan dieselfde pad as Wes-Rand loop. “Emfuleni [Vereeniging en Vanderbijlpark] is reeds in chaos gedompel met dienslewering wat heeltemal tot stilstand gekom het, Merafong City [Carletonville] is besig om in duie te stort en Mogale City [Krugersdorp] is kort op hul hakke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Wat my stomslaan en ek nie verstaan nie, is hoe ‘n sukkelende munisipaliteit geld by VBS kon bele het in die eerste plek? Ek as individu bele mos net “ekstra” geld wat ek wil spaar. Of mis ek iets in die lewe? Kan iemand uitklaar asb.

Elde ·

Dis net voorbedagte rade gedoen. Dalk nog in opdrag van hoër gesag. Alles. . . volgens plan.

Nikita ·

Want politici het omkoopgeld van hoofde vd bank ontvang in ruil daarvoor om in te stem dat openbare fondse by VBS deponeer word en die ANC het in 2006…R2milj vd VBS ontvang. n Destydse ANC- tesourier het die VBS gevra om R2milj aan die ANC present te gee in ruil daarvoor dat die VBS deposito’s van munisipaliteite ontvang. Maw die inbetalings is inruil vir omkoopgeld gedoen. Lekker anc…gaan lekker ne…en so aanbid hulle die goue kalf!!

Eish ·

So bevind die helhool hom op die randtjie van die afgrond, met stukkies grond en klip wat reeds wegbreek van die rand en die diepte instort.
Geen menslike poging kan die dolle vaart na die verdoemende val stuit nie, buiten ons Hemelse Vader. Mag Hy ons genadig wees…

Jannie ·

Daar word beweer dat hulle
Drastiese verhoging wou doen in krag, water en erfbelasting. So eintlik gaan net n handjie vol mense weer moet suffer sodat hulle kan oorleef.
Plaas hulle die korupsie uitroei. Better dienste lewer sodat goed wat herstel word nie elke nou en dan moet herstel word nie, die wat nie betaal vir hulle dienste nie aanvat ens ens. Dan sal dit nie so vrot gaan nie.

Diefie ·

Hulle het die regte ding gedoen om die skuldiges toe te sluit. Die senior amptenare het sekerlik gedeel in die bank storie. Nou moet die amptenare gedagvaar word en hul bates verkoop om ten minste ‘n deel van die geld terug te kry. Waarom is hulle nog nie “gefire” nie.

koos1 ·

Ek waar gaan hulle dan nou die ander geld kry om die salarisse te betaal, minder as 48uur later? By die regering?
As dit so is, bewys dit mos nou dat die regering gaan moet pa staan vir die VBS se ondergang.

ou uil ·

Hierdie is maar net die begin, die geld is op, massa afleggings wat voorlê orals. BTW en brandstof pryse is eerste tekens van `n ekonomie wat vaal agv. trae of lae produksie en dienslewering. Volgende vashou voorstelling sal `n aanslag op finansieele instansies wees.
77 Miljoen – vir tydelike verligting – vir salarisse ??

Dink bietjie ·

Hoe klink die situasie dan so bekend? Klink soos wat by Denel aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.