Gyseldrama: ‘Om hul te paai is bespotting van oppergesag van reg’

Thandi Modise (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In stede daarvan om die optrede van individue wat na bewering verskeie ministers gyselaar gehou het te veroordeel, is ’n bespotting van die oppergesag van die reg gemaak deur die beweerde oortreders te paai.

Só voer Kobus Marais, DA-LP en woordvoerder oor verdediging, aan nadat die presidensiële taakspan oor militêre veterane Vrydag tydens ’n mediakonferensie gesê het die twee kabinetsministers en adjunkminister wat Donderdagaand deur ʼn groep ongelukkige weermagveterane gyselaar gehou is, het in geen stadium vir hul lewe gevrees nie.

Thandi Modise, die minister van verdediging, en haar adjunk, Thabang Makwetla, is gisteraand ure lank saam met die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, by die St. George Hotel in Irene in Pretoria aangehou waar hulle met lede van die organisasie Liberation Struggle War Veterans (LSWV) vergader het.

“Dit was nie ’n bloedbad nie. Dit was ’n groep mense wat gevoel het dat ons nie hulle punt insien nie. Ons het volgehou dat ons wil probeer hul punt insien,” het Modise aan verslaggewers verduidelik.

Altesaam 56 mense, onder wie sewe vroue, is in hegtenis geneem en sal na verwagting tereg staan op minstens drie aanklagte van ontvoering.

“Die gyselaarsituasie wat by die St. George Hotel ontvou het, is ’n direkte oortreding van die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur en Verwante Bedrywighede. Daar is nie net kabinetsministers gyselaar gehou nie, maar ook gedreig dat hulle nie vrygelaat sal word indien pres. Cyril Ramaphosa hul nie kom toespreek nie.”

Die mediakonferensie wat vroeër vandag gehou is, moes volgens Marais dus eerder gefokus het op die regstappe wat gevolg gaan word om die oortreders aan die pen te laat ry.

“Die taakspan het inderwaarheid net probeer om die krake rakende die ANC se interne faksiegevegte toe te smeer. Gister se gebeure was ’n manifestasie van die hoë spel wat deur ANC-faksies gespeel word om ’n oorhand oor mekaar te kry.”

Volgens Marais het vandag se mediakonferensie ’n slegte presedent geskep wat kan aanleiding gee tot die persepsie dat aan eise toegegee kan word wanneer ’n minister gyselaar gehou word.

“Dit is die staat se plig om dit reg te stel en regstappe te doen teen diegene wat verantwoordelik was vir die gyselaarsituasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Die Regering is n GRAP !!

Piet

Staat is n sirkus en almal weet dit,inteendeel die hele wêreld sien die clowns!!!!!

JohanR

Ja nee hier is ‘n hele paar 25 percenters!

Shakespeare

Geokrestreer deur die ANC self. Modise is kwaliteit tronk materiaal. Arrogant verby. Sy is nie eers bevoeg om diere op te pas nie.

Werner

Nou hoekom moet die boere die aanvallers paai.Die regering verdien nie beter nie kry vir julle.