Haaie kry Eben se handtekening

Die Springbokke se Eben Etzebeth. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Dit is amptelik. Eben Etzebeth kan een van die grootste visse in die Haaitenk word wanneer hy eersdaags by die KwaZulu-Natallers aansluit.

Die Suid-Afrikaanse rugbyspan het vandag bevestig dat die 30-jarige slot teen die einde van die huidige Europese seisoen in die swart-en-wit-mondering van die Durbaniete te siene sal wees.

Etzebeth het vroeër aangedui dat hy om persoonlike redes weer na Suid-Afrika sal wil terugkeer nadat hy vir die afgelope paar jaar eersterangse rugby vir Toulon in Frankryk speel.

“Ek is hartseer om Toulon en my spanmaats te verlaat aan die einde van die seisoen, maar persoonlike redes dwing my om dit te doen. Ek sal egter steeds my beste vir die span gee om sodoende te verseker dat sy posisie op die punteleer verbeter,” het hy in ’n onlangse verklaring gesê.

Die Haaie pluk deesdae gereeld ’n haas uit die hoed: Siya Kolisi en Bongi Mbonambi speel nou hul rugby in Durban, terwyl Neil Powell (die Blitsbok-meesterbrein) in September as die unie se direkteur van rugby begin.

Maar in Etzebeth het die span ’n reuseslag geslaan.

Ja, die vurige slot was dalk te veel kere onbeskikbaar vir ’n Fransman se smaak, maar hy bly een van die heel beste spelers op die wêreldverhoog.

Hy was onder meer vroeër saam met Kolisi, Makazole Mapimpi, Damian de Allende en Lukhanyo Am in ’n wedloop om SA Rugby se speler van die jaar-toekenning gewikkel.

En al het die Springbok-kaptein uiteindelik met die louere weggestap, meen baie plaaslike rugbyondersteuners dat Etzebeth eintlik die speler was wat die titel verdien het.

Hy is ’n kranige lynstaanman, hy gee sy voorry die nodige stukrag, hy kan teenstanders onderstebo loop en oor die voordeellyn kom, terwyl wêreldrugby se grootste sterre boonop maar bra skrikkerig vir hom is – ’n mens wil nie sommer met hom skoor soek nie.

Met Eben Etzebeth in die omtrek sal die Haaie se rugbytande ongetwyfeld baie skerper wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Haaisop enigiemand ?

Samuel

Die enigste goeie ding is natuurlik vir sy bankrekening. Van lojaliteit weet die man niks nie.

SjN

So lang man val hard as hy getackle word om die enkels.

Jacobus

Ek wens jou als van die beste toe Eben. Van n WP ondersteuner.

MakersMark

Dbn is vêr van Langebaan af…..