Haaikykbedryf onder druk van haaivangers

‘n Nabyskoot van ‘n vissersboot met ‘n dooie bronshaai.(Foto: Verskaf.)

Gulsige kommersiële haaivangers is besig om die multimiljoenrand haaikykbedryf se voortbestaan te bedreig.

Die haaikykbedryf van Kleinbaai is die afgelope ruk onder druk weens die optrede van haaivangers wat koperhaaie teiken.

Verlede week was haaikyk-entoesiaste verbyster oor die optrede van vissermanne wat koperhaaie in dieselfde gebied gevang het as waar hulle besig was om die haaie naby die kus by Kleinbaai te besigtig. Die haaie, ook bekend as bronshaaie, bied uitstekende kykgeleenthede vir toeriste, veral as die grootwithaaie van die omgewing weens ’n verskeidenheid redes nie opgemerk word nie.

Die teenwoordigheid van die bronshaaie verseker dat die haaikyktoerismebedryf volhoubaar is en goeie geleenthede vir toeriste, ook uit die buiteland, bied.

“Omdat bronshaaie nie ’n beskermde spesie is nie, het die Great White Shark Protection Foundation (GWSPF), ’n gesamentlike groep van toeriste-operateurs, bewaringskundiges en haaiwetenskaplikes van Kleinbaai, die potensiële konflik tussen die toerismebedryf wat nieverbruikbaar optree en die kommersiële- en haaivangbedryf vir ontspanning die doodsklok vir die haaikykbedryf kan lui,” verduidelik Wilfred Chivell, eienaar van Marine Dynamics wat, onder meer, haaikykbootritte vanuit Kleinbaai aanbied en omvangryke mariene bewaringsprojekte langs die Overbergse kus bedryf.

“In ’n pro-aktiewe stap om konflik te vermy, het die GWSPF die minister van landbou, bosbou en visserye, Barbara Creecy, reeds in Augustus 2019 genader en voorgestel dat ’n klein eksklusiewe sone vir die vang van bronshaaie geskep moet word om die haaikykbedryf te beskerm. Sy het toe aangedui dat sy haar nuwe department van omgewingsake, bosbou en vissery (DOBV) opdrag gegee het om ’n vergadering met alle rolspelers te reël om die aangeleentheid en voorstel van die GWSPF te bespreek. Haaikyk-operateurs het gehoop dat so ’n byeenkoms ’n kompromisvoorstel sou kon saamstel, maar die vergadering het nou nog nie gebeur nie.””

Vissermanne vang haaie waar toeriste ook kan haaihokduik. Die boot langsaan is besig om te onderhandel met die vissermanne om hulle vangery in dié omgewing te staak. (Foto: Verskaf.)

In Oktober 2018 was haaikyk-operateurs ontsteld toe ’n visserman ’n bronshaai van meer as 100 kg ten aanskoue van hulle gevang en doodgemaak het langs die plek waar hulle na die haaie gekyk het. Dit was een van vier bronshaaie wat daardie oggend doodgemaak is. Omdat die DOBV geen plan gemaak het om te help verseker dat die hele haaikykbedryf van Kleinbaai in duie stort nie, het operateurs saamgestaan en haaivangers betaal om nie in daardie gebied haaie, en spesifiek die bronshaaie, te vang nie.

“Tot soveel as R900 000 is oor die afgelope drie jaar aan haaivangers betaal om die gebied waar haaikyk-aktiwiteite plaasvind, te vermy.

“Ons besef dat vissermanne bronshaaie wettiglik mag vang, maar die minimale verlies aan inkomste wat hulle dalk mag ervaar om elders bronshaaie te vang as in die gebied waar haaikyk-operateurs aktief is, is niks in vergelyking met die potensiële verlies aan ’n totale ekotoerismebedryf nie. As die kommersiële vang van die haaie in hierdie klein en spesifieke gebied waar ons aktief is, voortgaan, sal dit lei tot maatskappye wat hul deure sal moet sluit en mense wat hul werk gaan verloor.”

Die kommersiële haaivissermanne argumenteer op hul beurt dat langlyn-visvangaktiwiteite langs die Suid-Afrikaanse kus die haaibevolking uitdun en só hul vangste en inkomste nadelig beïnvloed. Die haaikyk-operateurs stem hiermee saam.

In Gansbaai bied die haaikykbedryf direkte werk aan meer as 250 mense en ondersteun dit indirek meer as 1 600 afhanklikes.

“Daar is nege operateurs in die gebied en ons ontvang jaarliks meer as 85 000 toeriste in die gebied. Ons maatskappye belê miljoene rande in infrastruktuur en bemarking wat die hele toerismebedryf in die Wes-Kaap bevoordeel. Ons weet dat reisigers hul keuse van waar om te bly, grond op die aktiwiteite wat in die gebied beskikbaar is. Haaihokduik is een van hierdie sleutelaktiwitieite,” sê Chivell.

“Die regering spandeer miljoene rande op Operasie Phakisa om die oseaanekonomie te ontwikkel. Haaihokduik en bootgebaseerde walviskyk is albei bedrywe wat niks uit die omgewing neem nie. Dit is hartseer om te dink dat ons ’n miljardrandbedryf – wat ’n geweldige groot rol speel in werkverskaffing en ontwikkeling in ’n klein kusdorpie – moet opoffer vir ’n skamele R20 000 wat haaivangers sal verdien. Ons wil hê dat die minister ’n nooduitsluitingsone moet skep voordat die vergadering met rolspelers gehou word sodat enige verdere verliese gekeer kan word,” is Chivell se mening.

  • Bronshaaie kom voor in gematigde waters en word gewoonlik in aktiewe groepe saam gesien. Hulle kan tot 3,3 m lank word en leef tussen 25 en 30 jaar. Hulle bereik geslagsrypheid laat in hul lewensiklus en kan eers op ongeveer 20-jarige ouderdom teel, wat van hulle ’n kwesbare spesie maak. Bronshaaie word deur die internasionale unie vir die beskerming van die natuur as bedreig beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmandaDup ·

En so sal die geld honger mense voortgaan om die natuur uit te wis. Sies!

Pieter ·

Interessant dat die meeste mense hul bestaan op aarde regverdig deur die aarde te myn en niks positiefs terug te sit nie. Parasitisme.

Pieter ·

Interessant dat die meeste mense hul bestaan op aarde regverdig deur die aarde te myn en niks of bitter weinig terug te sit om die ontginning volhoubaar te maak. Parasitisme.

Rudolph ·

Ons eie denke stem grootliks ooreen met die van ‘n stroper.Albei glo dit is hulle ‘reg’ om seekos te bekom. Albei glo die oseane is ‘n onuitputlike bron van smaak waaruit daar geoes kan word sonder enige gevolge. Albei beskou seediere as gevoelose objekte en handelsware. Seediere se lewens is vir ons en hulle waardeloos daarom neem ons dit op ‘n argelose wyse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.