‘Haakplekke’ het selfoonsein by staatsrede versteur

Joernaliste het Donderdagaand met die aanvang van die staatsrede beswaar gemaak oor selfoonsein wat geblok is. Foto: Twitter

Joernaliste het Donderdagaand met die aanvang van die staatsrede beswaar gemaak oor selfoonsein wat geblok is. Foto: Twitter

“Haakplekke” met “teen-waarneming taktiese maatreëls” het verlede Donderdag glo daartoe gelei dat selfoonseine versteur is voor die aanvang van die staatsrede in die parlement.

“Daar was geen seinblokkering nie, want as selfoonseine versteur was, sou daar ʼn totale afskakeling gewees het,” het David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, Donderdag aan joernaliste tydens ʼn  mediakonferensie van die regering se veiligheidsgroepering gesê.

Hy het ontken dat seine doelbewus versteur is, en het volgehou dat seine nie versper was nie, maar slegs onderbreek was. “Ons het die haakplekke begin ervaar toe ons ons eie operasionele plan begin implementeer het om die geleentheid te beveilig. Die haakplekke het op verskeie plekke plaasgevind, afhangende van waar ons toerusting was.”

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur om vas te stel hoekom die installering van die toestel die seine onderbreek het. Daar word ook ondersoek of dit ʼn menslike fout of sabotasie was.

Mahlobo kon nie besonderhede verskaf oor die toestel wat die seinversteuring veroorsaak het nie, maar het gesê dit hou verband met die lugruim bo die parlementêre gebied wat op 12 Februarie afgesper is.

“Daar is onbemande vliegtuie [hommeltuie of drones] wat oral rondvlieg en mense kan doodmaak,” het Mahlobo gesê. “Die vliegtuie kan bo en onder die radar vlieg. Amerika het byvoorbeeld ʼn soortgelyke vliegtuig gebruik om Osama bin Laden op te spoor.”

Joernaliste het verlede Donderdagaand met die aanvang van die staatsrede beswaar gemaak oor selfoonsein wat glo in die parlement geblok was. LP’s van die DA en EFF het saam met joernaliste gedreunsing “bring back the signal”.

Die selfoonsein is herstel nadat Mbete die parlement se sekretaris versoek het om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Dit is waneer mens Paranois raak begin jy sulke voorsorg maatreëls tref!!

Christie van Jaarsveld ·

Op die nuuskanaal op televisie het ‘n hooggeplaaste woordvoerder van die ANC die afgelope week gesê die blokkering van die selfoonsein tydens die staatsrede in die parlement is te wyte aan die feit dat ‘n lid van die staatsveiligheid nie die blokkeringstoestel “behoorlik” afgeskakel het nie. Dis onverskoonbaar. Sê nou iets dergliks het in oorlogstyd gebeur wat met direkte landsveiligheid te doen gehad het? Wat sou die gevolge dan wees? Gelukkig bevind ons ons nie nou in ‘n oorlogsituasie nie. Ek wil nie deur sulke ” palookas” beskerm word nie. Verder weet ek nie hoe so ‘n apparaat nie “behoorlik” afgeskakel kan word nie. Dis eenvoudig: Jy skakel dit aan “on” of af “off”. Die geagte heer op televisie nuus het al klaar versagtend teenoor skuldige persoon opgetree deur die betrokke woorde te gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.