Haakplekke in Gautengse skoleplasingstelsel

(Argieffoto: Unsplash)

Talle ouers en skole het reeds hul kommer uitgespreek oor haakplekke wat in die Gautengse departement van onderwys se skoleplasingstelsel opduik wat die proses om leerders vir volgende jaar te registreer bemoeilik.

Na aanleiding van ’n prokureursbrief wat AfriForum aan die departement gerig het om hierdie kommer onder die departement se aandag te bring, het die departementshoof, Edward Mosuwe, die skriftelike onderneming aan AfriForum gegee dat hierdie sake aandag geniet.

In die skrywe wat op 13 Augustus aan AfriForum gerig is, meld Mosuwe dat die huidige stelsel die aansoeke in fases verdeel om administrasie meer doeltreffend te maak. Hy gee die onderneming dat kinders se voorkeur vir taal van onderrig in die aansoek geakkommodeer word en in ooreenstemming met die plasingsregulasies hanteer sal word. Dit geld ook kriteria soos voedingsones en die kapasiteit van skole.

“Die ondernemings in die brief lyk gerusstellend, maar ervaring het geleer dat die volle omvang van probleme met Gauteng se stelsel eers duidelik word wanneer die plasingslyste bekend word. AfriForum gaan dus voort om die proses te moniteer ten einde moedertaalonderrig en leerders se regte te beskerm,” het Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, gesê.

“AfriForum se standpunt bly dat die stelsel waar skole self plasings kon hanteer, veel beter as die aanlynstelsel gewerk het en heringestel behoort te word. Dit het aan gemeenskappe die reg gegee om hul skole te bestuur, eerder as wat die gesag in die hande van die staat beland, met ideologiese inmenging van byvoorbeeld Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys, en voortdurende stelselprobleme wat vir skole en ouers groot spanning veroorsaak.”

Volgens Bailey word klagtes steeds van skole en ouers ontvang oor haakplekke in die stelsel en AfriForum bring dit deurlopend onder die departement se aandag. Dit sluit in dat ouers sukkel om tweelinge te registreer, omdat die stelsel net een plasing erken. Dan is daar ook ernstige kommer by ouers wie se kinders tans nie in openbare skole is nie, maar wat hulle in 2022 in openbare skole wil plaas. Hulle vrees dat hulle aansoeke nie gelyke oorweging sal ontvang nie.

Die departement het Dinsdag ʼn verklaring uitgereik waarin hy die publiek in kennis stel dat die webwerf waar aanlyn aansoeke vir plek in skole vir 2022 gedoen kan word, vir 48 uur gesluit sal wees. Dit is weens dringende instandhoudingswerk wat op die webwerf gedoen moet word.

Die departement se tegniese span het egter onverpoos gewerk om die probleme op te los en die webwerf was etlike ure later weer beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig aanlyn aansoeke vir volgende jaar vind vanjaar in twee fases plaas. Die eerste fase het op 10 Augustus afgeskop en duur tot 3 September. Dit is vir ouers of voogde wie se kinders tans in gr. 7 in staatskole in Gauteng is en volgende jaar in gr. 8 sal wees.

Die tweede fase begin op 13 September. In dié tyd kan diegene wie se kinders volgende jaar in gr. 1 of gr. 8 sal wees, maar nie nou in ʼn staatskool in Gauteng is nie, aansoek doen vir plasing. Die proses eindig op 8 Oktober.

Ouers word aangemoedig om hulle by www.gdeadmissions.gov.za van die plasingsproses te vergewis, in kontak met die skole van hulle keuse te bly en enige probleme met die stelsel aan te meld by AfriForum se klagtelyn by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Lesufi hoekom is daar soveel probleme met jou departement in Gauteng.Is jy bevoeg om daai pos te bekleë.

Tiptol

Wys my één staatsdepartement wat werk en effektief is. Almal is ondoeltreffend.

Vernon

Al hierdie goed gebeur want hulle wil totale beheer he..omdat daar te min skole en te min goeie skole is. Hulle is jaloers dat daar skole is wat werk en hulle kan nie die wa deur die drif kry nie.